/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Headline News
08 November 2019

Thabazimbi – Saterdag 2 November sal seker nog lank onthou word vir die dag wat die vreugdevure dubbel gebrand het in die Bosveld. 


Nie net het die Springbokke die Rose laat les opsê deur die Wêreldbeker met ‘n fantastiese oorwinning onder hulle neuse weg te raap nie, maar dit is ook die oggend wat die eerste somerreën wydverspreid in die Bosveld uitgesak het.

“Suid Afrika het soos een man saamgestaan agter die Bokke en die naweek het almal met trots ons groen truie gedra. Wat die dag net nog beter gemaak het is die seën wat ons van God ontvang het toe die sluise van die hemel oopgaan.

Die boere het swaar gekry die laaste ruk so ons is almal baie dankbaar vir die reën,” aldus Braam Venter, ‘n boer van Northam in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder.


Die koringboere het bykans almal klaar gestroop en soos daar gedurig gesê word, hier in Oktober bid die meeste mense al vir reën, dan vra die koringboere net nog ‘n dag of twee uitstel, om klaar te stroop.


Verskeie dele in die area is geseën met reën: Thabazimbi 34mm, Northam 36mm, Dwaalboom 32mm en sommige dele by Sentrum slegs 17mm. Die laaste paar jaar kry Sentrum baie minder reënval as die ander omliggende areas.


Sommige plase het bietjie meer gekry, by Northam ‘agter die berg’ 48mm, tussen Thabazimbi en Northam het dit gewissel van 30mm tot soveel as 50mm, tussen Dwaalboom en Thabazimbi was daar ook plase wat tot 40mm gemeet het, selfs na Cumberland se kant toe het dit op plekke 32mm gereën.
Die boere hoop vir goeie opvolg, want weiding is skaars en dis nou tyd om somergewasse te plant.

Braam Venter, ‘n boer van Northam.

 

Share this article with a friend...


Deprecated: Directive 'allow_url_include' is deprecated in Unknown on line 0