Articles
Social & Community News
07 August 2020

Thabazimbi – Dit is met groot hartseer dat die Thabazimbi-gemeenskap van Johan du Toit afskeid neem. Hy is op Sondag 2 Augustus op die ouderdom van 72 oorlede.

Johan het saam met sy vrou Elsa en hul seun Dirk in 1989 Thabazimbi toe verhuis, waar hy toe as ‘n verkoopsman vir Steins Ford begin werk het. Daarna was hy werksaam by Thabazimbi Toyota.

Johan was alombekend in Thabazimbi. Dié wat hom geken het, was baie bevoorreg en diegene wat hom nie geken het nie sou wel êrens van hom gehoor het.

Hy was 22 jaar betrokke by die Thabazimbi Landbou en Nywerheid Skou waar hy meeste van die jare op die komitee as vise-voorsitter gedien het. Sy kennis en insig van elke beesras en telers was fenomenaal. Hy was ook kundig oor saaiboerderye. Dis ook nie waar dit geëindig het nie. Johan kon ‘n groot verskeidenheid industriële, nywerheid asook landbou uitstallers kry om hulle goedere te kom uitstal tydens die skou. Dit was sy passie. Johan was ‘n groot legende by die skou en sy mede-komiteelede het hom as ‘skou familie’ beskou.

Hy het verseker diep spore by die skou en in die gemeenskap getrap. Hy was baie lief vir praat en grappies maak en was baie betrokke by sy kerk en die ouetehuis.

Johan is ‘n klompie jare gelede met velkanker in die gesig gediagnoseer. Dokters het ongeveer vier jaar gelede ‘n melanoom uit sy oog verwyder. Ongelukkig is sy oog beskadig en het verdere verspreiding plaasgevind. Ten spyte daarvan het Johan so normaal moontlik aangegaan met sy lewe.

Die merkwaardige man sal altyd onthou word, op sy gelukkigste met die mikrofoon in sy hand tydens die Thabazimbi Skou.

Johan du Toit was ‘n legende in die Thabazimbi-gemeenskap.

 

Share this article with a friend...