Wil jy dans HFM?

Thabazimbi – Saterdag 9 Maart het HFM weereens bewys waarom Thabazimbi so spesiale plek is om te bly, en dat ‘n skool se ouers en kinders ‘n hele gemeenskap kan laat sweef.
Dit is reeds jare lank tradisie vir die Graad 11’s van Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) om fondse te genereer vir hul matrieks se afskeid. Hierdie taak gaan gepaard met verskeie inisiatiewe waarvan Saterdagaand se skuurdans ‘n hoogtepunt was.
Wat hierdie skuurdans uniek gemaak het en tussen 350-400 mense ‘n aand vol herinneringe besorg het, was onder andere sewe skape op die spit en die optrede en vermaak van Arno Jordaan. Hy het as gaskunstenaar opgetree.
Die dansvloer was omring deur helikopters en ligte vliegtuie van True North Aviation. Dit het gevoel of jy op die aanloopbaan staan en kyk hoe paartjies hulle patroon op die dansvloer hou, kompleet asof hulle wag vir toestemming om te land.
Met die bekwame kaptein Isak en lugwaardin Petro Joubert aan stuur van hiérdie Graad 11 fondsinsamelingsprojek, het dit letterlik gevoel of die funksie in auto pilot vlieg en kon mense tot laataand hulself geniet en kuier dat die propellers tol!
‘n Veiling het gehelp om die matriekafskeidfonds verder te versterk, maar wat mens sal onthou van die aand is hoe die gemeenskap in hul getalle opgedaag het en jonk en oud ‘n kuierfees geniet het. Daar is gelag en gesels, saam Arno Jordaan gesing en gedans, lekker geëet en gedrink en weereens bewys dat Bosvelders one eie vlugplan volg.
HFM bedank elkeen wat die funksie bygewoon het, elke Graad 11 ouer en kind wat agter die skerms die besonderse aand moontlik gemaak het. Hulle wil ook ‘n spesiale woord van dank rig aan Jaco du Toit van True North Aviation wat as gasheer van die funksie sy deure vir ons almal oopgemaak het.
