Die KunsteGrot maak reg vir Keelvol

Thabazimbi – Die KunsteGrot bied op 4 Mei Keelvol aan, met German Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar wat die hoofrolle in dié bittersoet komedie beklee.
Die storie: Dirk Havenga vertolk deur Germandt is ‘n nuwe sang- en musiekonderwyser op die dorp. Hy het ‘n terugslag as musikant beleef in die stad, en probeer nou sy heil vind op die platteland.
Mariëtte Labuschagne, vertolk deur Je-Ani, werk in ‘n boekwinkel op die dorp. Sy droom haar lewe lank al van ‘n loopbaan op die verhoog. Al wat sy wil doen is sing. Mariëtte is reg vir haar eerste sangles... maar is Dirk?
Hierdie resep kan lei tot ramp of roem, of is dalk net wat hul albei nodig het.
Dié produksie beloof om iets te wees wat die gehoor se ore, lagspiere, traankliere en harte sal aanraak.
Kom wees deel van die unieke teater-ervaring waar storie, musiek, stemme en drome saamgeweef word en kom vind uit hoe belangrik dit is om jou eie stem dik te maak in ‘n wêreld wat jou soms wil stilmaak.
Kaartjies beloop R150 per persoon en piekniekmandjies is welkom. Vir meer inligting kontak Rita Volschenk by 083 744 8559.
