Wenke vir ‘n troeteldier noodgeval

Thabazimbi – Niemand weet wanneer ‘n ongeluk gaan gebeur nie en daarom is dit beter om voorbereid te wees in noodgevalle.
Dit is nie net mense wat in noodomstandighede verkeer nie en Medivet Thabazimbi het die volgende wenke vir wat om te doen indien jou troeteldier in nood is:
- Bly kalm en hou die dier kalm.
- Onthou diere in pyn mag dalk byt.
- Moenie onnodig aan die dier raak nie.
- In geval van bloeding, pas drukking toe met ‘n handdoek.
- In geval van epileptiese aanvalle, moenie die dier vasdruk of die tong probeer uittrek nie.
- Kry die dier so spoedig moontlik by die veearts.
- Hanteer die dier versigtig.
- Plaas ‘n klein dier in ‘n klein troeteldierkassie.
- Groter diere kan in ʼn kombers gesit word.
- Kom veilig by die veearts aan, en gee volle samewerking met die veearts.
Wanneer jy die veearts skakel, is die volgende belangrik:
- Stel jouself bekend.
- Stel duidelik die aard van die noodgeval.
- Luister aandagtig na die veearts se opdrag.
Wat om saam te vat na die veearts:
- Identiteitsdokumente.
- Selfoon.
- Beursie.
- Motor en huis sleutels.
As troeteldier-ouer het jy verskeie verantwoordelikhede ten opsigte van jou troeteldier se versorging.
Veeartse is privaatbesighede en kry geen subsidie van die staat nie.
Vir hierdie rede moet hulle kostes hef. Net soos by mense-dokters moet daar hoë standaarde gehandhaaf word. Dit is dus onvermydelik dat daar kostes gaan wees. Na-ure pryse is afhangend van situasie tot situasie, en kan selfs duisende rande beloop.
Vir meer inligting of in geval van nood, skakel Medivet Thabazimbi op 014 772 3323.
