Rugby Kampioenskapsreeks 2017

Suid-Afrika vs Nieu-Seeland
In Albany Nieu-Seeland behaal die All Blacks ‘n rekord oorwinning oor die Bokke, 57-0... Ja ou groene, 0-57. Die nul kan nie gemis word nie.
Vernederend, afgryslik en so kan mens aangaan. Na hierdie gemors moet daar indringend gekyk word na die knape in beheer en span keuses. Hierdie Bokspan se bestuur is ‘n verleentheid vir Suid Afrika. Almal weet egter wat die probleem in ons ruggas is, maar die wat weet mag nie vertel nie. Die Bok is aan die doodgaan ou groene. Suid Afrika speel volgende teen die Aussies op 30 September in Bloemfontien en die All Blacks reis Buenos Aires toe om 1 Oktober teen die Poemas uit te draf.
Australië vs Argentinië
Die Wallabies lewer ‘n goeie vertoning in Canberra en klop die Argentyne gemaklik 45-20. Die Aussies het namate die wedstryd gevorder het baie gevaarlik gelyk met bal in hand. Die Argentyne is nou maar eenmaal nie opgewasse vir die klas ruggas nie.
Haaie vs Griekwas
In Kimberley behaal die Haaie ‘n goeie weg-oorwinning en verdien volpunte met hulle sege van 40-22. Die was die Haaie se agste agtereenvolgende wen en hulle is tans in die binnebaan vir ‘n tuis semifinaal. Die Haaie se volgende game is in die Haaitenk waar hulle teen die Blou Bulle gaan uitdraf. Die Griekwas reis Nuweland toe om teen die WP uit te draf.
Pumas vs WP
In een van die grootste verrassings in vanjaar se reeks, klop die Pumas die WP in Nelspruit 22-12. Die Pumas was met rustyd 12-3 agter op die telbord en het met ander planne in die tweede helfte opgedaag. Hulle het die WP geboelie in die losspel en skrums en dodelik verdedig. Die Bokbestuur kan gerus die video opname van hierdie game kyk om te sien hoe die underdogs ‘n groot hond verniel ou grote. Die WP speel volgende tuis teen die Griekwas met die Pumas wat in Bloem teen die Cheetahs uitdraf.
Goue Leeus vs Blou Bulle
Die Bulle speel dalk hulle beste game van die seisoen maar verloor teen die Leeus 36-33. Die Bulle het darem twee waardevolle bonuspunte verdien met die Leeus wat ‘n voltal kry. Die sterk jong senter Ruan Janse van Rensburg het ‘n skitter game gehad en is beloon met twee puik drieë. Hoekom hy nie in die Bokspan speel nie sal net die duiwel weet. Vir die Bulle het jong heelagter Warrick Gelant ook gewys dat hy vir die Bokke kan uitdraf. Hy is sterk en baie vinnig, en kan dodelik verdedig.
Die Leeus het volgende ‘n loslootjie terwyl die Bulle Durban toe moet reis om teen die Haaie uit te draf.
Nag ou grote…
