Schools & sport

Week 9 Superugby 2019

19 April 2019 · Platinum Bushvelder

Week 9 Superugby 2019

Crusaders vs Highlanders
In Christchurch behaal die Saders hulle 24ste agtereenvolgende oorwinning op hul tuisvelde en wen die Highlanders met 43-17. Die Saders is los voor op die Nieu-Seelandse konferensie met 34 punte. 
Die Highlanders speel volgende teen die Blues in Dunedin met die Crusaders wat ‘n loslootjie beleef.


Rebels vs Stormers
Die Kapenaars sluit hulle toer daar onder af met ‘n goeie oorwinning oor die Rebels in Melbourne. Vir Steven Kitshoff was dit ‘n goeie dag op kantoor met sy eerste game as kaptein – om die Rebels met 41-23 te troef. Die Stormers beklee tans die vierde plek op die SA konferensie en die Rebels is nog steeds bo-aan die Aussie konferensie.


Die Stormers speel volgende teen die Brumbies in Kaapstad met die Rebels wat in ‘n Aussie derby teen die Waratahs in Sydney gaan uitdraf.


Chiefs vs Blues
In ‘n aanskoulike game in Hamilton slaag die Chiefs daarin om die Highlanders naelskraap met 33-29 te troef. Vir die fynproewers was daar nege skitter drieë aangeteken.


Die Chiefs speel volgende teen die Leeus in Hamilton met die Blues wat teen die Highlanders in Dunedin te staan kom.


Brumbies vs Leeus
Die Leeus se maanhare word weer geknoop in Canberra en verloor 31-20 teen die Brumbies. Volgens coach Swys is wen nie alles nie – en o aarde ou grote, dit klink nie so vars nie!

Die enigste lig in die tonnel is die terugkeer van Warren Whiteley wat ook dan weer die leisels as cappie gaan oorneem.


Die Johannesburgers speel volgende teen die Chiefs in Hamilton met die Brumbies wat SA toe reis om teen Stormers in Kaapstad kragte te meet.


Haaie vs Jaguares
As coach Robert en kie op ‘n bootjie geklim en die see ingevaar het, sal niemand hulle seker kan verkwalik nie... En hierdie is nie ‘n April grappie nie ou grote. Die Haaie kry ‘n rugby les by die Jaguares en verloor 51-17!


Die Haaie speel volgende teen die Reds in Durban en sal hopelik opdaag vir die een. Die Argentyne het ‘n loslootjie in week 9.


Bulle vs Reds
Die Bulle lewer ‘n skaflike vertoning in Pretoria voor 7,000 toeskouers en klop die Reds 32-17. RG Snyman se terugkeer kon nie op ‘n beter tyd vir die Bulle gekom het nie; hy was ‘n kolos ou grote! Met hierdie oorwinning beklee die Bulle dan nou ook die eerste plek op die SA konferensie.


Die Bulle verdien dan ‘n loslootjie in week 9 met die Reds wat Durban toe reis om teen die Haaie uit te draf.


Nag ou grote....

* En so terloops, die Blitsbokke lewer ‘n verbysterende vertoning in Singapoer om 0-19 agter te loop teen Fidji, en dan wonderbaarlik terug te kom om die toernooi 20-19 te wen... Fenomenaal! Eer aan die jong manne wat oornag ysters geword het.

* En die Maties klop toe die Tuks in die Varsity Beker finaal 34-12.