Diefstal van kalwers

Thabazimbi/ Dwaalboom – Diefstal van kalwers van vyf jaar en jonger, neem al hoe meer toe volgens ‘n plaaslike boer van Dwaalboom, Johan Kritzinger. Dwaalboom net duskant Thabazimbi is ‘n hoë risiko-area vir veediefstal.
Johan en Archie Kritzinger van die plaas Cradoc het Sondagaand 10 Maart deurgeloop. Vroeg die volgende oggend het hulle gesien dat die hekke oop staan. Beide hekke wat na die vee lei was gesluit, maar die diewe het ‘n paal afgesaag en toegang verkry. By nadere ondersoek het hulle agtergekom dat vyf jong osse gesteel is.
Die vorige week het iemand ‘n voertuig met ‘n waentjie by die Kritzinger se bure se hek, sien uitkom met twee koeie. Die buurman, Willem de Beer, woon in Rustenburg. Niemand het iets vermoed nie; hulle het gedink hy het die beeste verkoop. Op 7 April is daar ook drie jong kalwers by ‘n ander boer gesteel.
Boere moet liefs jong kalwers brandmerk sodat daar ‘n duidelike bewys is dat die kalwers aan jou behoort sou die polisie op diewe toeslaan. Boere word ook aangeraai om daagliks hulle bees stoetery en kleinvee te besoek en te tel.
Afslaers is ook gewaarsku om geen kalwers of vee te verkoop wat nie duidelik gemerk is nie.
