The have nots

My hele lewe lank was ek goed versorg en alles het klopdisselboom met my lewe geloop. Ek kon nooit verstaan hoekom mense swaarkry of selfs alles verloor nie. Die deel van swaarkry het ons die have nots genoem en altyd gehelp waar ons kon.
Saans as die dag kalmte oor ons bring, het ons dankie gesê vir ons voorregte en asseblief gevra vir die minderbevoorregtes. Weduwees en wese was ook op die agenda en dan díe wat emosioneel swaar kry, ou mense en selfs die in die tronke. Die in hospitale, gestremdes en armes...
Dan was daar die dankbare hart vir seëninge na liggaam en gees en vir beskerming en voorspoed. Die normale moeilikheid by die werk en dan ook vir die stoutgatte om tot inkeer te kom. Dan ook gevra vir reën... sonskyn as ons gaan uitkamp en vir beskerming teen skade.
So gebeur dit dat die myn toemaak en my beroof van nog sewe jaar se inkomste en versorging. Geen mediese fonds, verdere pensioen of bonusse nie. Geen jaarlikse verlof of dertiende tjek nie.
Skielik is ek ‘n have not... En tog dankbaar. Skielik is ek meer afhanklik van genade en leef ek van die hand na die mond. En tog is daar hoop vir more.
“More sal die son weer skyn
Miswolke sal dan verdwyn
Glimlag deur die storm wind
Jy is mos ‘n Koning kind”
Skielik is dankbaar en genade ‘n groot deel van my lewe. Die dankbaarheid draai nou om vandag se oorleef en more se genade.
Groetnis, Oom Mamba
