HFM SE BOSVELD DERBY

Thabazimbi – Die eerste Bosveld Derby is Saterdag op 18 Mei aangebied deur Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) op hul tuisveld. Tydens die byeenkoms het HFM-leerders kragte gemeet met hul buurskool, Hoërskool Ellisras.
Wat die byeenkoms egter uniek maak, is die feit dat Oud-Frikkies in groot getalle saamgetrek het om teen oud-leerders van Hoërskool Ellisras mee te ding! Die Oldies het mekaar gepak en taai wedstryde is gespeel in netbal, hokkie en rugby.
Ninette de Aguiar, wie die skool se Openbare Betrekkinge behartig, het gesê: “Ons Bosveldskole het ‘n ryk kultuur van trots, waardes en tradisie wat oor baie jare strek. Die Bosveld Derby is ʼn manier vir oud en jonk om bymekaar te kom, en ons goeie buurmanskap te vier.
Thabazimbi en Ellisras leerders pak mekaar gereeld met mening op die sportveld aan en kompetisie is straf, maar na die tyd kuier ons saam en hegte vriendskapsbande word so gesmee. Die goeie gesindheid en gees tussen die twee skole is merkwaardig.”
Die hoogtepunt van die dag was toe HFM se oud-rugbyspelers in wit en blou streeptruie, wat tradisioneel nog altyd deel was van die eerstespan se drag, deelgeneem het aan ‘n optog. Daar was trotse Frikkie spelers en afrigters vanaf 1962! Menige toeskouers het trane in die oë gekry, of hul nou Oud-Frikkies was, of nie!
Die kaptein van die Oldies, eerstespankaptein van 1994, Jaco Schlebush, was die oudste speler by die derby. HFM het geseëvier in ‘n taai stryd, sonder dat ouderdomme in aanmerking geneem is.
Een van die organiseerders, Skobol Swanepoel, wat die skool se eerstespanafrigter was vanaf 2000-2011, het verduidelik dat die Derby-idee sy oorsprong het vanaf die Ben Alberts-dag, wat in die vroeë tagtigs aangebied is. Thabazimbi en Ellisras se dorpspanne en klubs het op elke sportgebied teen mekaar meegeding, en die algehele wenner het weggestap met die Ben Alberts-trofee. Dit het ongelukkig in 1996 doodgeloop.
Skobol het bygelas: “Die Bosveld Derby is ‘n briljante konsep. Dit gaan beslis uitbrei en het die potensiaal om die dorp betrokke te kry en dalk weer te laat meeding vir die Ben Alberts-trofee.
Ons hoop dat Hoërskool Ellisras ons volgende jaar by hulle sal ontvang en dat dit ‘n instelling sal word tussen die twee dorpspanne.”
Die middag is op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n braai, waartydens almal saamgekuier het. In die eerstespan rugby-klubhuis kon hulle by die foto-galery hul spore nagaan en hul glorie-dae as Frikkies herleef.
Nico Greeff, ‘n organiseerder en HFM eerstespan speler van 1999 tot 2001, het gesê dit was vir hom ‘n besondere voorreg om die oud-afrigters daar te kon hê, veral vir Ben van Rensburg wat in 1964 reeds afgerig het en vir Ampie le Roux. “Dit was ook lekker om te sien hoe die gemeenskap bymekaar kom en om ‘n slag weer vol pawiljoene by ‘n rugbywedstryd te hê.”
Ampie le Roux, ‘n legende in rugby-kringe, wat in 1962 vir HFM se heel eerste eerstespan, senter gespeel het, sê die dag was ‘n reuse sukses.
Oom Ampie, soos hy bekend staan, was ook ‘n onderwyser en afrigter “in die goeie ou dae” toe HFM vir Potchefstroom Gimnasium pakslae gegee het op Gimmies se eie veld! Van 1996 tot 2000 was hy die Springbokke se logistieke bestuurder en het hulle op 60 toetse wêreldwyd vergesel.
Vir hom was dit verbasend dat oud- Frikkies selfs van Port Elizabeth af ingevlieg het vir die dag. Hy het onomwonde verklaar: “Jy dink jy’s klaar met rugby, maar rugby is nooit klaar met jou nie.”
Hy het verder gesê hy hoop dat die Bosveld Derby net die begin is en dat dit ‘n jaarlikse instelling sal word.
HFM wil graag al hul borge en ondersteuners bedank vir elkeen se bydrae.
