Van toeka tot nou... THABAZIMBI SE DORPSWAPEN

Thabazimbi – Thabazimbi se oorspronklike dorpswapen het die nuwe dorpstatus in die 1950s met klem onderstreep.
Die sebrakop, gekruisde hamers en die kop van ‘n afrikanerbees versinnebeeld die oorsprong van die dorp op Kwaggashoek, die mynbedrywighede en die belangrikste landbou projek van die omgewing.
Heelwat later is daar ‘n nuwe dorpswapen geskep vir Thabazimbi. Die elemente word as volg beskryf:
- Son: Die son simboliseer ‘n beter toekoms.
- Horisontale ‘w’ vorm: Hierdie vorm verteenwoordig die bergreekse wat die skouspelagtige natuurskoon skep wat die vlaktes van Thabazimbi en die groter Waterberg-gebied kenmerk. Dit is ook verwant aan die naam van die munisipaliteit, ‘Thaba’ wat ‘berg’ beteken, terwyl ‘Zimbi’ dan ‘yster’ beteken.
- Hut: Die hut simboliseer die behoefte aan eenheid en moedig alle mense, ongeag ras, kleur en geloof aan om te voel dat die dorp hulle huis is. Die hut verteenwoordig ook die kulturele en tradisionele lewe van die mense van Thabazimbi.
- Die simbool vir yster: Die yster verteenwoordig die mynbou-aktiwiteite in Thabazimbi.
- Luiperd: Die luiperd is een van die groot vyf diere wat in Thabazimbi gevind kan word. Die luiperd is ‘n sterk dier. Dit verteenwoordig die kollektiewe krag en oplossingsgesindheid van die mense van Thabazimbi om ‘n voorspoedige dorp vir almal te bou.
- Staalwiel: Die staalwiel dui op die sterk landbou aktiwiteite binne die breër ekonomiese sektor van Thabazimbi.
- Broodboom: Die broodboom verteenwoordig die unieke spesies wat in die Marakele Nasionale Park en weier areas gevind word, en beeld ook die toerismebedryf van Thabazimbi uit.
- Blare: Die blare simboliseer die natuurlike omgewing en natuurskoon.
Beskrywing van die kleure van die wapen van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit:
- Rooi: Rooi verteenwoordig die ryk grond waarop ons ‘n lewe maak. Dit dui op ons volhoubaarheid vir toekomstige geslagte.
- Blou: Blou verteenwoordig die immer belangrike afhanklikheid van die water elemente wat ons in die Krokodilrivier, strome en ondergrondse waterbronne vind.
- Geel: Geel simboliseer ‘n breek met die verlede en beywer ‘n beter, voorspoedige toekoms vir Thabazimbi en almal wat daarin woon.
- Groen: Groen dui op ons natuurlike omgewing.
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi oor die jare heen te deel met ons lesers.
Ons hoofbron kom van die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.
