Schools & sport

Aziscore borg posduifklub lid

14 June 2019 · Platinum Bushvelder

Aziscore borg posduifklub lid

Thabazimbi – Dit is vir Stephanus Botha ‘n baie groot voorreg om vir Aziscore, vir die tweede jaar,  as borg van sy wedvlugduiwe te erken. 


Hierdie maatskappy wat al in 1992 gevestig is in Thabazimbi, het diep spore in die gemeenskap getrap. 


Vir diegene wat al net so lank in Thabazimbi woon, sal die naam ‘Staal Aasvoël’ seker beter op die volkstong lê. Hoe dit ook al sy, Neels Brits staan aan die stuur van sake en in die begin moet hy ook self in die skroot rondkrap vir items om te herwin en verkoop. Vandag spog Aziscore met trots oor hulle 37 personeellede. 


Daar is tans vier werkers wat nog van die eerstes was wat hy aangestel het kort nadat sy besigheid begin groei het. Aziscore se opruimingsdienste help plase en besigheidspersele opruim en is vandag ook in diens van verskeie myne. Daar is konstant afvalstukke staal, sink, pype ensovoorts wat hulle weg vind na Aziscore, en wat weer herwin word. 


As jy die vraag vra, hoekom hy ‘n sport soos wedvlugduiwe ondersteun, is sy antwoord baie eenvoudig: “Dit is ons besigheidsbeginsels vanuit die staanspoor om terug te ploeg in die gemeenskap wat ons ondersteun. Saam kan ons mekaar sterker maak.” 


Aziscore se borgskappe vat hande met plaaslike kleuterskole, skole, apteke en soms ook minderbevoorregte gemeenskappe buite ons distrik.


Die Posduifklub van Thabazimbi wil graag vir Neels baie dankie sê vir sy onomwonde ondersteuning!