VAN TOEKA TOT NOU... NG Kerk Northam

Northam – Die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk van Northam het op 31 Mei hul 78ste herdenking gevier.
Jare terug het die ringkommissie van Rustenburg opdrag ontvang om ‘n nuwe gemeente te stig met Dwaalboom en Northam as die sentraal punte van die bosveldwyke.
Alle belangstellendes is opgeroep met die oog op afstigting. Vergaderings om hierdie taak te bemag is op 30 Mei 1941 te Dwaalboom gehou, en die volgende dag in Northam.
Die gemeentes het begin as twee preek-punte van dieselfde gemeente, maar in 1948, het Dwaalboom ‘n selfstandige gemeente geword.
Die gemeente in Northam se naam was oorspronklik ‘Rustenburg-Noord’, maar in 1960 wys die jaarboek dat die kerk se naam verander het na NG Kerk Northam.
‘n Gedenkplaat teen die toring van die kerkgebou was op 28 Mei 2016 onthul ter herdenking aan God se Genade aan die gemeente in Northam oor 75 jaar. Daarop verskyn die volgende teks: Psalm 146:10: “Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag. Prys die Here!”
Die volgende leraars het die afgelope 78 jaar diens gelewer by NG Kerk Northam:
- Dominee A.A. Van Wyk - 1942 tot 1944
- Dominee F.P. Myburgh - 1944 tot 1947
- Dominee J.P. Potgieter - 1948 tot 1949
- Dominee A.P. Burger - 1949 tot 1956
- Dominee J.H. Du Toit - 1956 toto 1962
- Dominee S. Van Rensburg - 1964 tot 1967
- Dominee W.A. Rossouw - 1968 tot 1971
- Dominee A.P. Du Preez - 1971 tot 1976
- Dominee J.J. Van As - 1977 tot 1979
- Dominee H. Retief - 1980 tot 1984
- Dominee N.J. Coetzee - 1985 tot 1987
- Dominee H. Coertze - 1988 tot 1996
- Dominee B. Oosthuizen - 1997 tot 2000
- Dominee E. Botha – 2001 tot 2003
- Dominee H. De Kock – 2003 tot 2007
- Dominee J.A. Du Plessis – 2007 tot 2017.
Dominee Marius Hunter is tans leraar by Northam NG Gemeente.
Miempie Geldenhuys is die langste betsaanslidmaat in hierdie gemeente. ‘n Volle 69 jaar! Sy is vandag 90 jaar oud. “Ek is baie lief vir my mense en het soveel herinneringe van hierdie dorp wat so na aan my hart lê,” aldus Miempie in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder.
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: van toeka tot nou. Ons hoofbron kom van die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.
