Curriebeker 2017 & Rugby kampioenskappe 2017

Haaie vs Leeus
In Durban behaal die Haaie hul tiende agtereenvolgende oorwinning en klop die Leeus 24-10. Die Natallers het weer goed aangepas in die nat toestande, op ‘n stadium so reg dat die game tydelik tot halt geroep was ou grote! Die Haaie onder die ysterhand van coach Robert Du Preez speel met baie selfvertroue en passie en is reeds verseker van ‘n tuis semi-finaal. Die Haaie het ‘n loslootjie volgende en speel oor twee weke tuis teen die WP. Die Leeus speel volgende teen die WP in Jo’burg.
Griekwas vs Cheetahs
Die Diamantboere het van die meet af onder die Vrystaters ingeklim en hulle behoorlik opgedons ou grote. Hulle wen uiteindelik verspotmaklik met 59-24. Die Griekwas sal egter nie meer die uitspeel rondes haal nie, maar kan nog hulle laaste twee games wen. Hulle speel volgende teen die Poemas in Nelspruit met die Cheetahs wat Vrydag tuis teen die Bulle gaan uitdraf.
Blou Bulle vs WP
En daar vreet die Bul weereens van die vloer af en nogal teen sy grootste vyand. Die WP wen hierdie riller 46-45 op Loftus en vir die Bulle is 2017 se seisoen steeds rampspoedig. Met hierdie oorwinning het die WP nou in die tweede plek ingeskuif op die log en ‘n moontlike tuis semi wink vir die Kapenaars.
Nag ou grote…
Rugby kampioenskappe 2017
SA vs Australië
In Bloemfontein speel Suid-Afrika gelykop teen die Aussies vir die tweede keer in ‘n maand, 27 punte elk. Galbraak, onvleiende taal, handgebare en verskeie negatiewe optredes is deur duisende ruggas ondersteuners ervaar die laaste agtien maande van SA Rugby ou groene. In elk geval, die telling is ‘n getroue weergawe van die dag se spel, en dit is duidelik dat selfs ‘n blinde blondine sal aanvoel dat nie een van die twee spanne op dieselfde veld as die All Blacks hoort nie.
Suid-Afrika speel volgende op Nuweland teen die All Blacks met Australië wat Argentinië toe reis om teen die Poemas op te draf.
Argentinië vs Nieu-Seeland
In Buenos Aires klop die Kiwi’s die Poemas op ‘n drafstap met 36-10. Die All Blacks het die eerste helfte krane oopgedraai en was met rustyd 29-3 voor. Dit is net ongelooflik hoeveel diepte die Kiwi’s in al die posisies het en word beloon vir harde werk. Die All Blacks kom Saterdag teen Suid-Afrika op Nuweland te staan (17h05).
En so terloops, die All Blacks wen die 2017 reeks alreeds, die vyfde keer sedert 2012!
Nag ou groene...
