Hfm Skiet n Kolskoot

Thabazimbi – Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) het vanjaar sewe leerders gehad wat deelgeneem het aan die African Regional Field Archery Championships (ARFAC) in Zambië van 28 Junie tot 3 Julie. Die was die moeilikste baan waarop hulle tot dusvêr geskiet het, nietemin het die leerders puik presteer.
Sumarie Marais het twee nasionale kwalifiserings geskiet en het algeheel vierde geëindig in die junior boogjagter-afdeling. In die junior seuns boogjagter-afdeling het Selkirk von Wielligh ‘n silwer medalje gewen met twee nasionale kwalifikasies.
Kruger van Zyl het algeheel vierde in die afdeling geëindig met twee nasionale kwalifisering. RW Furstenburg het vyfde geëindig met ‘n provinsiale kwalifikasie. In die dogters vryskut afdeling het Ameij ‘n goue medalje verower, sy het twee nasionale kwalifiserings geskiet en het ‘n Afrika rekord opgestel.
Jan-Gunter Marais wat in die provinsiale kwalifisering geskiet het, het ‘n brons medalje in die vryskut afdeling behaal. Cobus Marais het homself oortref; hy het drie Afrika rekords opgestel en het goud in die jong volwassenes-vryskut afdeling verower.
Onderwyseres by HFM, Bianca Kleynhans, het ‘n goue medalje in die boogjagter afdeling gewen met twee nasionale kwalifikasies. Selkirk en Kruger was ook deel van die Protea-span wat goud gevat het.
Die volgende groot kompetisie vind volgende jaar in Estonia Europa plaas. Welgedaan skutte!
