2019 CURRIEBEKER

Bulle vs Cheetahs
Op Fort Loftus vreet ons bulle maar toe weer van die gras af en kry ‘n vieslike pakslae by die Vrystaters en verloor 27-43 ou grote. Die Blikore het weliswaar goed gelyk en kan dalk weer die beker Bloem toe vat as hulle so voortbou.
Vir die arme Ruan Steenkamp was dit nou nie juis die beste game ooit om as cappie vir die eerste keer op te draf vir die Bulle nie. Die Bulle verloor nou twee in ‘n ry – en om ‘n tuis game te verloor is tot vir die kopdokter in Brakpan ‘n nagmerrie. Die Bulle speel volgende teen die Pumas in Nelspruit met die Cheetahs wat tuis teen die onoorwonne Griekwas gaan opdraf.
Griekwas vs Pumas
In Kimberley bou die Griekwas voort op hulle goeie spel en klop die Pumas in ‘n aanskoulike game 37-29. Die veteraan George Whitehead is die generaal in die Griekwas se span en lei die een aanslag na die ander.
Die Griekwas se volgende game is teen hulle aartsvyande en die game is in Bloemfontein teen die Cheetahs wat beïndruk het met hulle terugkeer in SA rugby.
Die Pumas gaan volgende gasheer speel vir die gekweste Bulle in Nelspruit.
Haaie vs WP
In die Haaitenk verras die Durbaniete vriend en vyand met puik spel om die Kapenaars 32-27 te klop in ‘n goeie rugga game ou grote. Die Haaie se verdediging was iets ysliks – senter Jeremy Ward op die voorste linie was dodelik. Hy het ‘n paar keer die WP pimpel en pers geduik.
Die Haaie het ‘n loslootjie volgende met die WP wat teen die Leeus op Nuweland gaan uitdraf.
Nag ou grote…
