2019 RUGBY KAMPIOENSKAPSREEKS

SA vs Australië
Op Ellispark verras die “B”-span van Suid Afrika en klop Australië gemaklik 35-17 en behaal ook ‘n waardevolle bonuspunt. Die Bokke was voorlangs eenvoudig net te sterk vir die Aussies met Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit wat van vooraf gelei het.
Dan het die dag egter aan die nuweling skrummie Herschel Jantjies behoort. Hierdie buksie het gewys dat sy ghoenas groter as sy vuiste is en het ‘n droom debuut gehad. Hy word ook beloon met twee skitter drieë. Rassie het hier raak gevat vir ‘n verandering!
Die Bokke speel Saterdag teen die All Blacks om 09:35 in Wellington en dit beloof ‘n lekker rillertjie te wees maat! Duane Vermeulen is die nuwe Bok cappie en Kwagga Smit is die ses flank... En Elton Jantjies is nie daar nie – man dit kan net goed gaan! Die Aussies reis Buenos Aires toe om teen die Pumas uit te draf.
Argentinië vs Nieu-Seeland
In Buenos Aires moes die All Blacks wragtig hard werk om die begeesterde Pumas in toom te hou maar swig toe nie onder die druk nie, en wen 20-16. Die Pumas kon nog nooit die Kiwi’s wen nie en moet maar nog ‘n jaar wag - of dalk later vanjaar in die Wêreld Beker kan hulle paaie weer kruis. Dit was ‘n taai affêre met die rustyd telling op 20-5.
Die Kiwi’s wat geen punte kon aanteken in die tweede helfte nie, slaag met onderskeiding in hulle verdediging. Die All Blacks speel volgende teen die Bokke in Wellington en maak geen geheim daarvan dat hulle nie ‘n maklike dag op kantoor gaan beleef nie.
Nag ou groenie...
