OERSMELTERS - VAN TOEKA TOT NOU

Ons onderwerp onder oënskou, is die oersmelters gebruik vir die verwerk van ystererts.
Daar bestaan onsekerheid oor hoeveel yster daar in die heel vroegste tye van Thabazimbi se hematiete gebruik is.
In die ystertydperk is daar wel van die berg se bates gebruik gemaak. Die smeltproses van die primitiewe smelters kon moontlik soos volg verloop het.
Die erts is opgetel of in die berge met hamerklippe en ysterbeitels uitgemyn. Dit is dan na die smeltterrein in velsakke of in gevlegte nette van biesies of gras gedra. By die smeltterrein is die erts met behulp van hamerklippe in die holtes van stampklippe in klein stukkies opgebreek.
Die erts, so groot soos perskepitte, is saam met houtskool in die smeltoond geplaas. Houtskool is verkry deur sekere tipes hout in ‘n oop vuur te brand, waaruit die kole later uit gehark en geblus is. Nog ‘n metode vir houtskool voorbereiding was om die hout met nat grond te omring, waarna die hout stadig tot kole gesmeul het.
Die houtskool en erts is dan in die smeltoond van klei geplaas. Die smeltoond, wat moontlik in die Thabazimbi-omgewing gebruik is, word geklassifiseer as die Kaditshwene-tipe. Die Kaditshwene-oond word gekenmerk deur ‘n ovaalvormige leemte, wat na bo koepel en ‘n skoorsteen vorm.
Die oond is gewoonlik in ‘n holte in die grond geleë en deur klippe of grondwande gestut. Dit het twee openinge vir die blaaspype waarvan een gewoonlik groter as die ander is.
Die blaaspype is vervaardig deur pottebakkersklei om ‘n reguit struktuur met die regte deursnee te vorm. By die een punt van die pyp is die klei na buite uitgebou om ‘n klokvormige gedeelte te vorm.
Aan die blaaspype is blaasbalke wat ‘n sakvorm geheg. Die sak het of uit die vel van ‘n bok wat heel afgetrek is, bestaan. Die velle is volgens ‘n spesifieke proses voorberei. Waterbokhorings is meestal as blaaspyp vir die sak gebruik. Twee houtbalkies het as kleppe vir die blaasbalke gedien.
Die erts word vooraf in die oond in ‘n kalbas op ‘n spesifieke afstand van die blaaspype geplaas. Hierna word elke blaaspyp voor ‘n aantal gloeiende kole geplaas, die oond word tot bo met houtskool gevul en die blaasproses begin. Periodiek moes houtskool weer bygevoeg word.
Dun stokkies word al langs die kante van die smeltholte ingesteek om die houtskool weer te laat insak. Die blaaspype wat as gevolg van die hitte wegsmelt, moet gereeld oopgestamp word en weer nader aan die erts geskuif word. Na ongeveer 12 ure word die oond nie verder met houtskool opgevul nie en word toegelaat dat die oond laer brand.
Die blaasbalke word verwyder en die blaaspype word oopgebreek, die kole word dan met vars gekapte nat stokke uitgekrap. Daarna word die gesmelte klontyster met stokke uitgelig en met sand bedek, om te verhoed dat dit re-oksideer. Wanneer die yster afgekoel het, is die onsuiwerhede met hamers uitgekap.
Eers na dié proses is die yster reg om tot verskillende voorwerpe verwerk te word.
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: van toeka tot nou. Ons hoofbron kom van die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.
