Community

TOTSIENS BOSVELD [Skrywe aan die redakteur] 

23 August 2019 · Platinum Bushvelder

TOTSIENS BOSVELD
[Skrywe aan die redakteur] 

Thabazimbi - Dis met ‘n knop in die keel dat ek en my vrou ons mede-bosvelders na 15 jaar groet. Ons verlaat Thabazimbi om gedurende September na ‘n aftree-oord in Potchefstroom te verhuis. 


Eintlik is ek alreeds vanaf 1965 aan Thabazimbi verbonde, toe ek as jong student vir die eerste keer vir my student-nooientjie kom kuier het. Ronel  het hier gematrikuleer en is nou reeds 49 jaar my vrou.

Vanaf 2004 kon ons permanent hier op ‘n familiegrondjie kom ‘uittree’ uit die voltydse bediening (nie aftree nie!). Ek het spoedig weer hulpdiens verleen in die plaaslike gemeente (tot op hede) asook in die buurgemeente Matlabas vir ‘n tyd lank.


Ek koester mooi herinneringe aan die bietjie hulp wat ek aanvanklik aan die destydse Marakele-Parkforum kon verleen en is trots op die huidige park as groot toeriste-trekpleister. Dit was ook vir my ‘n voorreg om die aanvanklike Gemeenskaps-Polisiëringsforum te kon bystaan.

Die aandeel wat ek saam met dokter Andries Buys en talle ander helpers aan die totstandkoming van die Tambotie Versorgingsentrum vir verswakte bejaardes gehad het, was nie net vir my ‘n groot voorreg nie maar sal altyd een van my kosbaarste herinneringe bly.


Ons mense in hierdie omgewing het besondere gawes ontvang. In alle beroepe blink hulle uit, veral wat uithouvermoë en werksroeping betref. Hou so aan!


Ons bande met Thabazimbi sal nooit vervaag nie: ons ouers en van ons familie se grafte bly hier agter... maar die onuitwisbare indruk van die pragtige Krokodilrivier-besproeiingsvallei en die verstommend-mooi dorp wat jy deur die Vliegepoort binnery... Thabazimbi, bly enig in sy soort.


Beste wense,
Ds. Dirk en Ronel Laufs

Dominee Dirk Laufs en sy vrou Ronel.