UITBLINK GIMNASTE

Thabazimbi – Die Limpopo Artistiese Gimnastiek kampioenskappe is op Saterdag 31 Augustus met groot sukses aangebied deur Kruiskrag Gimnastiek Thabazimbi.
Altesaam 100 gimnaste vanuit nege klubs in die provinsie van so vêr as Louis Trichardt en Phalaborwa het aan die kompetisie deelgeneem.
Die kategorieë was vlak vier tot agt, hoëvlak asook klas nul tot drie. Twintig top beoordelaars vanuit Limpopo, Noordwes, Noord- en Sentraal Gauteng het bygedra tot die hoogstaande gehalte van die geleentheid.
Kruiskrag Gimnastiek Thabazimbi is trots om te spog met 22 van hul gimnaste wat provinsiale kleure verwerf het. Ons eie Jo-lize Butler en Luca Coetzee was ook aangewys as die beste seun en dogter gimnaste in die provinsie.
Richard Marshall, president van Limpopo Gimnastiek, het Kruiskrag Gimnastiek Thabazimbi geluk gewens wat as jongste klub in die provinsie ‘n reuse bydrae lewer tot dié sport.
Abraham Groenewald van Kruiskrag Gimnastiek Thabazimbi, spreek sy opregte dank uit aan die puik span afrigters: Kim Veldman, Suzette Brits en Nadia van der Merwe, sowel as die toegewyde Kruiskrag ouers en gimnaste. Abraham gee alle eer aan Jesus Christus vir Sy goedheid en guns.
Volgende gaan ons gimnaste ons provinsie verteenwoordig by Gym Games te Kaapstad van 24 tot 28 September.
