Schools & sport

WÊRELDBEKER 2019

27 September 2019 · Platinum Bushvelder

WÊRELDBEKER 2019

SA vs NZ
Duisende Suid-Afrikaners se harte is vir eers gebreek na die 23-13 nederlaag teen die All Blacks in hulle eerste groep-wedstryd in Jokohama.

 
Tussen die trane wat vrylik saam die Germaanse bruisdrankies gevloei het, is die wang gedraai vir Jérôme Garcès. Hy het nou nie juis ‘n dik verhouding met die Bokke nie, maar wragtigwaar, kan nét hy die skuld kry?


Ou groenie, die Bokke is nog nie in dieselfde klas as die All Blacks nie, en hoe vinniger duisende SA rugga ondersteuners uit hulle droomwêreld ontwaak – hoe beter!


Die ligpunt van die game was die vaste fasette wat die Bokke een vóór was, met die klein yster Cheslin Kolbe met ghoenas groter as sy hart en Pieter-Steph du Toit – soos gewoonlik – die beste voorspeler. Die een se dood is die ander een se brood, met Trevor Nkanyane wat ongelukkig weens ‘n ernstige besering terugkeer na Suid Afrika, en Thomas du Toit wat by die Bokke sal aansluit.


Handrè Pollard moet nou die leisels neem met Cobus Reinach as sy adjudant. Francois Steyn en Jesse Kriel die senterpaar en Kolbe skuif na heelagter met Nkosi wat op vleuel inkom, aldus die kenners om die vuur. En glad nie sleg nie of wat?


Maar Rassie het sy eie planne soos gesien kan word met die Bokspan wat in hulle volgende groep-wedstryd Saterdag teen Namibië sal uitdraf. Die nommer drie haker, Schalk Brits sal as kaptein en agsteman die span aanvoer. So indien die Bokke die kwartfinaal haal, sal hulle teenstanders Ierland wees en die All Blacks sal teen Skotland uitdraf.

Ander uitslae tot druktyd

  • Japan 30 - 10 Rusland
  • Australië 39 - 21 Fidji
  • Frankryk 23 - 21 Argentinië
  • Italië 47 - 22 Namibië
  • Ierland 27 - 3 Skotland
  • Engeland 35 - 3 Tonga
  • Uruguay 30 - Fidji 27 (eerste opskudding)

Nag ou groenie...