Community

VAN TOEKA TOT NOU Yskor se eerste miljoen ton

4 October 2019 · Platinum Bushvelder

VAN TOEKA TOT NOU
Yskor se eerste miljoen ton

Thabazimbi – Die jong Yskor het soos enige ander nuwe industrie wêreldwyd pynlike, sukkelende beginjare gehad. 


Behalwe vir die normale, moes Yskor hom ook teen buite-elemente staal – kritici wat met arendsoë die omstrede industrie dopgehou het asook goedkoop staal van oorsee af. Boonop het Yskor produksiestadium bereik in een van die grootste depressiejare wat die wêreld al beleef het. 


Staal vanuit Duitsland, België en Luxemburg is in grootmaat na SA verskeep, en teen laer as produksiekoste verkoop. Yskor kon nie met dié lae pryse meeding nie. 


Die Suid Afrikaanse spoorweë het egter in ‘n groot mate op Yskor se staal gesteun. Wat interessant is, is dat die spoorweë minder vir Yskor se staal betaal het as wat spoorweë in Europese lande vir dit betaal het. Die Duitse spoorweë het 2.01 pond méér per ton vir strawwe van die Duitse staalwerke betaal, as wat die Suid-Afrikaanse spoorweë vir Yskor se staal betaal het.

Die Franse spoorweë het 1 pond meer per ton betaal, die Amerikaanse spoorweë 12 sjielings meer en die Britse spoorweë 13 sjielings meer per ton... En een pond was toe nog ‘n pretty penny. 


Hendrik van der Bijl het toe in samewerking met die regering, die collective investment fund (CIF) skema begin. Die regering het ‘n prys vasgestel wat berus het op die verbruikersprys.

Die prys sou volgens die vervaardigingsprys in Engeland en Suid-Afrika bereken word. Enige produk wat teen ‘n laer prys aangebied word, sou dienooreenkomstig belas word. Hierdie skema het verligting gebring aan die nuutgestigte Yskor.


Die gety het in Julie 1935 begin draai na die fabriek-wins van 10,980 pond tot 420,549 pond vermeerder het. Elke maand het die berg sy kwota erts van tussen 25,000 en 30,000 ton opgelewer. Yskor het teen 1937 ekonomies so sterk gestaan, dat die regering besluit het om die CIF-skema te laat vaar. 


‘n Aantal talentvolle jongmans is toe oorsee gestuur, wat met hulle oorjasse die kuns van staal vervaardiging in oorsese staalwerke onder oë gehad het. Hul is later gemoedelik gedoop as ‘Van der Bijl se veertig diewe’.

Almal – behalwe een – het teruggekom en hulle kennis in Yskor teruggeploeg.
Thabazimbi was nie net ‘n bosveld dorpie soos almal gedink het nie... Hy het sy eie geraas gehad! Wanneer dinamietontploffings bo in die berg die erts losgeskiet het, was geen gesprek onder in die dorp moontlik nie.

Die posmeester moes skree om homself bo ‘n betonmenger hoorbaar te maak! Daagliks het die produksie vermeerder totdat die miljoen ton-merk in sig was, slegs vier jaar na die eerste ertslewering. 


Op 8 Junie 1937 vier Thabazimbi een van die belangrikste dae in hul bestaan toe die eerste miljoen ton erts uit die myn ontgin word.


Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: Van Toeka Tot Nou.

Ons hoofbron kom van die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.

Yskor in die begin van hul produksiestadium.