RUGBY WÊRELDBEKER KWART-FINALE 2019

Engeland vs Australië
Die Engelse speel skitterende ruggas en verwoes die Aussies se semi-finaal drome. Engeland wen 40-16 en rig ‘n duidelike waarskuwing aan al die ander spanne – dat hulle honger is vir die 2019 titel.
Die Aussies het regtig oor hulle eie voete geval en het seker een van hulle powerste vertonings ooit gelewer.
Die Aussie coach Michael Cheika het soos verwag ook dan sy bedanking ingedien. Engeland se verdedigingsafrigter, John Mitchell, se hand kan duidelik gesien word in die dodelike opskiet verdediging wat die Aussies in hulle spore gestuit het.
Eddie Jones reken die All Blacks is nie onoorwinlik nie en praat al klaar van die eindstryd teen Suid-Afrika...
Nieu-Seeland vs Ierland
Die Kiwi’s klop Ierland gemaklik 46-14 en speel kliniese ruggas om deur te dring na die semi-finaal teen Engeland. Volgens kenners is hierdie game tussen die twee beste spanne in die toernooi.
Na baie ure langs die braaivleis vure en saam kuier is daar nog nie ooreengekom wie hierdie oorlog gaan wen nie...
Wallis vs Frankryk
Wallis was gelukkig om die Franse te klop en wen 20-19. Die rooikaart wat die Franse ontvang het, het die game in die Rooi Drake se guns geswaai. Wallis draf volgende teen Suid-Afrika uit en dit gaan opsigself ‘n riller wees.
Suid-Afrika vs Japan
En so kom Japan se toernooi tot ‘n einde en verloor 26-3 teen die Bokke.
Die Japanners het moedig geveg en was tot en met rustyd nog in die game met ‘n telling van 5-3 in die Bokke se guns. Rassie se stoomroller tegniek het in die tweede helfte die Japanners seergemaak en die Bok swaargewigte was net één te veel vir die Japanse voorspelers.
Faf se irriterende hang, lug skoppe was ook regtig nie lekker om vir tagtig minute lank te aanskou nie – maar dit is taktiek aldus coach Rassie en kie.
Die Bokke draf dan Sondag teen Wallis in die tweede semi-finaal uit en sal regtig van rat moet verander, anders gaan die Rooi Drake vir die eerste keer deurdring na ‘n finaal.
Nag ou groene...
