AfriForum bied Nehemia-opleiding in Thabazimbi aan

Thabazimbi – AfriForum het op Saterdag 19 Oktober Nehemia-opleiding by die Tarentaalpan-jeugkampterrein in Thabazimbi aangebied. AfriForum-lede van Ellisras, Thabazimbi en die Matlabas-gebied het dit bygewoon.
Die doel van die opleiding is om gemeenskap-pe meer weerbaar te maak, asook om te wys dat almal verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid kan neem en dit binne die raamwerk van die wet gedoen kan word. Dit wys ook dat die gemeenskappe hulself doeltreffend kan beveilig deur met verskeie rolspelers saam te werk.
“Dit is vir ons belangrik om hierdie opleiding aan ons gemeenskappe te bied. Ons wil vir hulle wys dat alternatiewe veiligheidstrukture geskep kan word en daar saam met die SAPD gewerk kan word om ‘n veiliger omgewing vir die hele gemeenskap te skep,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof van die noordstreek.
Die opleiding het op gebiedsbeskerming, toneelhantering, patrollie en regs- en risiko-aspekte gefokus.
“Die opleiding was veral doeltreffend omdat lede van die plaaslike polisiestasies dit ook bygewoon het.
Dit bevestig dat ons met goeie samewerking ‘n groter veiligheidsnetwerk in gemeenskappe kan bewerkstellig wat aan alle wetlike aspekte voldoen,” sluit Coetzer af.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (R1).
AfriForum mediaverklaring, 22 Oktober
