WÊRELDBEKER SEMI-FINALE

Engeland vs NZ
Die game wat deur miljoene rugga supporters en liefhebbers regoor die wêreld gekyk is, sal onthou word as die Engelse aanslag van die eeu – moontlik die beste vertoning ooit deur Engeland.
Die telling, 19-7, vlei die All Blacks ou grote. Die twee drieë wat nie toegeken is nie, was millimeters aan die verkeerde kant. Van die afskop af het die Bleekbene gewys hulle gaan nie nonsens vat nie en het die Kiwi’s met mag en mening voos geduik. Op die dag was Engeland net één te veel vir die All Blacks en het absoluut verdien om te wen.
Met hierdie puik oorwinning dring die Engelse dan deur na 2019 se finaal en gaan teen Suid-Afrika op 2 November in die International Stadium Yokohama uitdraf. Die Bokke het die Engelse in 2007 in die openings-game geklop en toe weer in die finaal – en dit sal beslis vanjaar se superspan motiveer om die finaal te wen.
Die bul nommer 8 van Engeland beweer dat hulle uitsien om in ‘n straatgeveg betrokke te raak met die Bok-ysters en hulle gaan vuur met vuur baklei.
NZ gaan dan om die brons medalje meeding teen Wallis.
SA vs Wallis
Die Bokke wen 19-16 en dring deur na die 2019 Wêreldbeker Finaal teen Engeland. Rassie se tegniek en taktiek was maklik, skop links, skop regs, skop hoog en skop die bal deur die pale en sodoende skop hulle Wallis onder hul agterente! Hoe sê mens... back to the basics boys!
Die eindtelling en hoe hulle gewen het sal oor tien jaar nie onthou word nie, maar die feit dat hulle gewen het sal onthou word. Die Bok se 14 yster voorspelers gaan gewis nie deur die Ingelse vories geboelie word nie, en selfs met prins Harry wat daar sal wees, gaan die hare waai, ou groene.
Handré Pollard sal die x-faktor wees in die finaal met Faf as die skop-generaal. Well done Rassie met jou span!
Go Bokke!
