Community

Pakkies vir droogte geteisterde Karoo

1 November 2019 · Platinum Bushvelder

Pakkies vir droogte geteisterde Karoo

Thabazimbi – Die NTK tak van Thabazimbi en sy personeel het ‘n pakkie opgemaak vir die Karoo se droogte geteisterde boervrouens en daag ander besighede uit om ook ‘n pakkie te stuur.


Jy kan enige iets in die pakkie sit, dink maar aan jou daaglikse benodighede vir die huis soos blikkies kos, koffie, suiker, gekondenseerde melk, tee, skoonmaakprodukte of seeppoeier. Karoo boere het niks meer oor na die droogte wat al vir vyf jaar voortsloer. 


Thabazimbi se eerste besending sal op Saterdag 2 November plaasvind en daar is weer ‘n geleentheid op 18 November. As jy nie self ‘n boks vol kruideniersware kan pak nie, kry jou vriendinne, bure of kolegas om dit saam met jou te doen. 


Jy kan selfs ‘n ietsie bederf soos koekies, beskuit, ‘n pakkie lekkergoed, handeroom, tandepasta, shampoo, ‘n tydskrif of boek inpak. 


Franci Els van Thabazimbi NTK, het vir haar dogter Carien du Plessis van dié pakkies vertel. Carien en haar man Hanno du Plessis wat werksaam is by die NWK-tak in Grootpan naby Swartruggens, het die storie onder die boervrouens van Swartruggens versprei. Gou-gou is daar sommer nog ‘n hele paar bokse gevul. 


Carien en Hanno het al die pakkies wat hulle in die motor kon kry saamgevat en die ander is na die Swartruggens tak toe wat op hul beurt ook na die Karoo sal gaan.


‘n 76-Jarige boer van die Karoo vertel: “Die Liewe Here het nie van ons vergeet nie. Buiten vir die 20 bale voer het die ouvrou van 73 jaar, só ‘n pakkie gekry – ewe op haar verjaardag.

Dit is nou meer as vier jaar wat ons enigste kind weg is, na onse Hemelse Vader toe. In die vier jaar kon ons nooit vir mekaar ietsie kleins gee as een verjaar nie, net ‘n ekstra drukkie. Hierdie pakkie het koffie, koekies, seep en selfs ‘n string pienk pêrels bevat, so asof die een wat die pakkie gepak het geweet het – die ouvrou verjaar.”


Indien jy geroepe voel, pak ‘n boksie vir ‘n Karoo-vrou. Sit enige iets daarin om haar te bemoedig... 
Jy kan die items in enige stewige boks pak, toedraai, duidelik merk en voor Saterdag 2 November by die NG Kerk Thabazimbi of The Gunmen se kantoor by die vliegveld in Thabazimbi gaan afgee.


Indien jy dit nie kan aflewer nie, skakel gerus vir Linda Richard by 082 466 6281. Vir meer inligting kontak  Nicole Murray op 082 751 2302 of Ertjies de Witt op 072 040 5111.

NTK Thabazimbi bestuurder Ockert Venter.
Liezel van Rooyen (links) en Carine du Plessis al die pad van Grootpan af met hul skenkings.
Pakkies reg om Karoo toe te gaan.