Waterpokkies steek kop uit in Thaba

Thabazimbi – Na die onlangse toename in die gevalle van waterpokkies in Thabazimbi, het Platinum Bushvelder gesels met Mediclinic Thabazimbi Hospitaal bestuurder Martjie du Preez oor die ‘kolletjie-siekte’.
Waterpokkies is ‘n hoogs aansteeklike infeksie wat blasies veroorsaak en jeuk. Wanneer ‘n persoon díe siekte opdoen, word dit volgens die simptome behandel.
Die virus word oorgedra deur lugbesmetting, fyn spoegdruppels met hoes en nies, vel tot vel aanraking soos drukkies of handskud, deur besoedelde oppervlaktes aan te raak soos ‘n deurhandvatsel of kombers, of van ma tot baba deur borsvoeding.
Die aansteeklike periode vir die siekte is sewe tot tien dae. Sodra die rofies gevorm het of begin afval, is die aansteeklike periode verby.
Die simptome wat die meeste uitstaan is die jeukerige, rooi kolletjies en blasie uitslag op die vel – maar die persoon kan ook hoofpyne, verlies van aptyt, seer keel en geswelde limfknope ervaar.
Volgens Martjie word waterpokkies behandel met pynmedikasie, antivirale medikasie en antihistamiene. Vir tuisbehandeling beveel Martjie aan om in hawermout te bad en Calamyne room te smeer.
“Daar is ‘n voorkomende endstof vir waterpokkies wat gegee kan word as kind,” sê Martjie.
Indien jy of iemand in jou familie die simptome van waterpokkies het, besoek gerus Mediclinic by Van der Bijl straat 173, Thabazimbi.
