Dra Swart die Maandag, 29 Oktober!

Vroeër vandeesweek het die sosiale vonk gespat in ‘n veldbrand wat oor Facebook tot Twitter gewoed het.
‘n Enkele boer het in sy bakkie gesit en worstel teen die trane en die oorweldigende emosies van moedeloosheid en verlies. Hy het nie net getreur vir sy vriend en medeboer Joubert - wat onlangs vermoor is nie – maar ook vir al die ander boere wat genadeloos uitgewis was gedurende 2017.
Na ‘n paar diep slukke om die trane terug te hou sê hy “‘n Ou voel so magteloos, ‘n ou voel jy moet graag help en iets doen vir die land se boere. Maar dis net as jy chaos kan veroorsaak dat jy gehoor sal raak op grondvlak.”
“Kom ons trek Maandag swart aan,” sê die boer “...dat ons net kan respek toon aan al die boere wat hulle lewens verloor het hierdie jaar.”
Sedertdien die boer se versoek om Maandag as ‘n roudag te onthou het verskeie mense soortgelyke stories gedeel. Mense wat voel hulle volk, boere, broers en gesinne word uitgewis. Mense wat voel hulle word nie gehoor nie of selfs doelbewus geïgnoreer!
As jy voel dis tyd om gehoor te word, dra swart Maandag en maak Maandag ‘n Nasionale Roudag. Trek ook asseblief swart aan gedurende die naweek se rugby dat daar op ‘n internasionale vlak gesien word dat ons saam treur en basies geen ander gesamentlike gebaar kan gebruik sonder om moeilikheid te veroorsaak nie.
