VAN TOEKA TOT NOU Nederduitsch Hervormde Kerk Northam

Northam – Onder die leiding van 32 lidmate, het die Nederduitsch Hervormde Kerk Northam-gemeente afgestig vanaf die Vliegpoortgemeente in 1967.
Planne vir die nuwe kerkgebou is opgetrek en gestuur vir goedkeuring. Ten spyte van die lang wag en vele debatte oor hoe om te werk te gaan was die gemeente van een ding seker – saam met God kon hul die moeilike pad stap.
Op 11 Februarie 1978 word die hoeksteun gelê met dominee Pretorius as die eerste predikant. Maande lank is daar beeste van Derdepoort af aangery om geslag en bewerk te word, sodat basaarwinste gebruik kon word om die lening af te betaal.
Die stigterslede van die Nederduitsch Hervormde Kerk Northam-gemeente was: Willie Jacobs, Ockert Engelbrecht, Stoffel Alers, Servaas Loots, Kobus Jooste, Jan en Issie Siemens.
Van dié stigterslede het gedien as ouderlinge, diakens en lede van die finansiële komitee. Nadat die kerk in gebruik geneem is, het nuwe lidmate soos Hennie en Bertha Coetzee, Loot en Elsie Mostert en Flippie en Poppie Prinsloo by die span aangesluit. Hulle het diep sporte getrap in die gemeente.
‘n Klompie jare later is die ou kerkgebou verkoop en op Sondag 28 August 2016 word die nuwe kerkgebou ingewy. Die pad tot hier was ‘n groot uitdaging maar met ‘n goeie span gemeentelede het ons die wa deur die drif getrek tot waar ons vandag is.
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, prestasies, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: Van Toeka Tot Nou.
