Die gevare van vuurwerke

Thabazimbi – Die Feesseisoen is hier... en daarmee saam kom vuurwerke. Niemand kan ontken dat lugskou vol helder vuurwerke pragtig is om te aanskou nie, maar die oomblik van prag kan egter nagevolge hê.
Die Thabazimbi Fire Protection Association (TPFA) het volgens die Wet op Plofbare Stowwe nr. 26 van 1956 soos gewysig die volgende riglyne deurgegee:
een persoon, behalwe die vervaardiger, mag plofstowwe en vuurwerke verkoop as hul nie in besit is van ‘n lisensie wat deur ‘n inspekteur uitgereik is nie.
‘n Handelaar van vuurwerke mag geen vuurwerke aan kinders onder die ouderdom van 16 verkoop nie.
Geen persoon mag toelaat dat ‘n kind onder die ouderdom van 16 jaar vuurwerke hanteer sonder volwasse toesig nie.
Dit is onwettig vir enigeen om vuurwerke te gebruik of af te skiet:
- Binne 500 meter van ‘n magasyn vir ontplofbare stowwe, ‘n brandstof-opslagplek of ‘n gashouer;
- In ‘n gebou of op ‘n openbare deurgang; of
- Op ‘n openbare plek of in ‘n openbare oord, uitgesonderd met die voorafgaande skriftelike toestemming van die plaaslike bestuur.
Die plek waar die vuurwerke afgeskiet sal word moet minstens 100 meter vanaf die naaste gebou, pad of spoorweg en minstens 20 meter vanaf die naaste bogrondse telefoon-, telegraaf- of kragdrade, boom of ander bogrondse versperring geleë wees.
Niemand mag ‘n openbare vertoning van vuurwerke op ‘n perseel hou sonder die skriftelike toestemming van die hoofinspekteur van ontplofbare stowwe nie.
In die toestemming moet die voorwaardes gestipuleer word wat nagekom moet word en nie-nakoming van enigeen van hierdie voorwaardes maak ‘n misdryf uit ingevolge hierdie regulasie
• Aansoek vir toestemming om ‘n openbare vertoning van vuurwerke te hou, moet skriftelik gedoen word.
Die TFPA beveel aan dat vuurwerke, Chinese lanterns en fakkels glad nie binne die munisipale grense afgevuur word nie. Die afvuur van genoemde items kan weghol-veldbrande veroorsaak. Oortreding van hierdie wet kan lei tot vervolging deur die hof.
Enigeen wat die regulasies oortree is skuldig aan ‘n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete van hoogstens R600 of met gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens 12 maande of met beide sodanige boete en sodanige gevangenisstraf, en die ontplofbare stof, indien enige, ten opsigte waarvan die oortreding of nie-nakoming plaasgevind het, mag verbeurd verklaar word.
Vir meer inligting oor die gevare van vuurwerke kontak die TPFA op 078 252 4076.
VUURWERKE EN DIERE
Nie net hou vuurwerke ‘n brand-gevaar in vir mense nie, maar diere lei ook daaronder. Volgens Medivet Thabazimbi veearts verpleegster Jo-marié Erasmus, het vuurwerke ‘n geweldige negatiewe uitwerking op beide wilde en troeteldiere.
“Die klank van die vuurwerke veroorsaak vrees en angs. Dit veroorsaak ook dat wilde diere probeer weghardloop en dan voor voertuie beland. Baie troeteldiere hardloop ook weg. Hierdie troeteldiere word óf doodgery óf vermis. Meeste word nooit weer herenig met hulle eienaars nie en beland dan in ‘n dierehawe. Ons kry gereeld diere tydens die feesseisoen wat beseer is omdat hulle deur drade kruip of oor heinings spring of selfs deur vensters wurm as gevolg van vrees,” aldus Jo-marié.
“Voëls en klein knaagdiere word so bang dat hulle vlug van hul neste waar daar soms babas agtergelaat word. Angs maak die diere dikwels so deurmekaar dat hulle nie weer hulle babas kan vind nie. Voëls raak so gedisoriënteerd dat hulle in vensters vasvlieg terwyl hulle probeer vlug. Seemeeue raak verstrengel in die oorskot van die vuurwerke. Baie diere probeer die afvalstukke van die vuurwerke eet, verstik en gaan dan dood,” sê Jo-marié.
Thabazimbi Animal Rescue (TAR) wat elke jaar tydens die Kersseisoen troeteldiere inneem, sê dat daar tussen 25 en 40 diere jaarliks as vermis aangemeld word as gevolg van klappers of swaar weer. Hulle doen ‘n beroep op die gemeenskap om spesiale voorsorgmaatreëls te tref in verband met vuurwerke tydens die feesseisoen:
Maak seker dat iemand betroubaar na jul viervoetige kinders omsien terwyl julle weggaan en gee vir die persoon TAR se selfoonnommer asook die veeartse waar honde behandel word in geval van nood.
Indien jy self by die huis is, maak seker jou troeteldiere is veilig binne die huis met kos en water tydens vuurwerke.
Daar is verskeie maniere wat diere gekalmeer kan word soos kalm musiek, deur hul te streel en met hulle te praat. Daar is ook kalmeermiddels beskikbaar by veeartse – veral vir baie sensitiewe en bang honde.
Dit is baie belangrik dat diere nek-bandjies aan het sodat jou troeteldier geïdentifiseer kan word.
Jo-marié Erasmus.
