Dokter Jamiela Barnard vertel meer oor bosluiskoors en bosluisbytkoors

Thabazimbi – Dokter Jamiela Barnard het op Maandag 6 Januarie by die Medivet span aangesluit. Sy het haar twee honde, Zorro en Missy, twee Swiss Shepherd honde saam met haar gebring.
Sy het die merkwardige honde gered na hul eienaar target practice op hulle uitgeoefen het. Intussen het sy hul opgelei om haar te help ander diere rustig te hou, hulle wakker te maak na narkose en selfs om hulle hitte te gee, wanneer hulle dit sou nodig hê.
Na ‘n groot hoeveelheid gevalle van bosluiskoors aangemeld is het Platinum Bushvelder met haar gaan gesels oor die verskil tussen bosluiskoors en bosluisbyt-koors.
“Ek word gereeld deur bekommerde honde eienaars gevra wat die verskil is tussen bosluiskoors en bosluis-byt-koors. “ sê Barnard.
Bosluiskoors is ‘n bloedparasiet wat in honde se rooibloedselle voorkom. Dit veroorsaak bloedarmoede en vermindering van bloedplaatjies. Die parasiet word oorgedra deur die bruin hond-bosluis wat algemeen hier in die Bosveld voorkom.
Wanneer die bosluis ‘n hond byt, migreer die parasiet na die rooibloedselle toe. Die rooibloedselle breek en die inhoud lek in die bloedstroom in wat dan later deur die urine uitgeskei word.
Kliniese tekens van die siekte sluit in bleek slymvliese, donker geel tot rooi urine, swakheid en koors. Komplikasies is volop en die siekte kan tot die dood van ‘n hond lei. Behandeling moet so gou as moontlik plaasvind en ‘n veearts gebruik ‘n bloedsmeer van die hond, sowel as meer gevorderde toetse om te help met die diagnose.
Honde wat baie siek is, word dadelik op ‘n drup gesit en opgeneem in die diere hospitaal vir verdere behandeling. Indien die diagnose vroeg genoeg gemaak word kan die hond huis toe gaan met tuis behandeling wat deur die veearts voorgeskryf word. Honde met bosluiskoors kan vergelyk word met mense wat malaria opdoen.
Bosluisbytkoors se parasiete word meestal in honde se witbloedselle aangetref. Die siekte kan spontaan genees, maar sommige honde ontwikkel swakheid, koors, ‘n neiging om te bloei en nierskade. Dit kan dodelik wees vir sommige honde.
Bosluisbytkoors simptome kan dae tot weke vat om kop uit te steek en die meerderheid honde word nie dadelik na die bosluisbyt siek nie. Die bruin hond bosluis, asook die bontbosluis kan die siekte aan honde oordra.
‘n Veearts moet deeglike ondersoek doen om die parasiet op te spoor en behandeling te begin. Tuis behandeling kan gedoen word, tensy die hond baie siek is en opgeneem moet word in die dierehospitaal. Behandeling van die siekte vereis dat die hond daagliks medikasie kry en nie ‘n dag oorslaan nie. Die behandeling duur 21 dae.
Nie een van die twee siektes kan van hond na mens oorgedra word nie. Mens is wel vatbaar vir soortgelyke siektes wanneer dieselfde tipe bosluis hulle byt. Die twee siektes verskil baie en so ook die diagnose proses en behandeling.
Daar is geen enting teen die siektes nie en honde bly lewenslank vatbaar daaroor, omdat die parasiet, soos die mensgriep virus, dinamies is en konstant aanpas by die omgewing. Voorkoming is die beste geweer teen die siektes en honde moet gereeld behandel word teen bosluise met die gepaste produk wat by die diere klinieke beskikbaar is.
