Katgriep steek kop uit

Thabazimbi - Katgriep, of Parvo Enteritis, is ‘n hondesiekte wat hoogs aansteeklik is. Honde tot en met twee jaar oud, is vatbaar vir hierdie siekte, veral hondjies onder agt maande en honde wat nooit inentings gekry het nie.
By Medivet Dierekliniek is daar in Januarie twee tot vier gevalle per week aangemeld. Hulle het ons meer ingelig oor die hondesiekte:
Die warm weer met bykomstige reën is ʼn groot oorsaak in die styging van hierdie siekte, sowel as die hoeveelheid jong hondjies wat nooit hulle inentings ontvang het nie.
Die woord ‘katgriep’ is bedrieglik. Die virus kom nie van katte af nie. Vroeër jare het mense geglo dat katte die siekte vir honde kan gee. Sommige mense glo ook dat die naam van die daad afkom wat hierdie siek honde doen, naamlik ‘om ‘n kat te skiet’.
Die waarheid is dat die Parvo virus ‘n hoogs aansteeklike en taai virus is wat van hond tot hond oorgedra word deur middel van hulle uitskeidings. Die virus bly lewendig in uitskeidings wat op die siek hond se beddegoed en in die erf rondlê. Dit is baie moeilik om die virus uit te wis aangesien dit tot sewe maande in die omgewing, op beddegoed en op klere kan bly. Dit kan ook deur middel van die wind verskeie kilometers ver versprei.
Mense kan egter nie by honde aansteek nie.
Die virus teiken vinnig-verdelende selle. Die vinnig-verdelende selle aan die binnekant van dermwande is die mees vatbaar vir die virus, selfs die limfkliere en beenmurg word ook aangeval. Wanneer die virus die dermwande beskadig, kan die hondjie se derms nie meer vog en voeding absorbeer nie. Bakterieë wat gewoonlik in die derms nie kwaadaardig is nie, migreer dan deur die stukkende wande na die hond se bloedstroom toe en veroorsaak ernstige sekondêre infeksie.
Die siekte is lewensgevaarlik vir honde en moet so gou moontlik behandel word. Tekens van die siekte sluit in ʼn seer mag, waterige tot bloederige diarree wat vreeslik ruik, braking en ‘n hondjie wat vreeslik siek en pap is.
Hondjies wat die tekens wys moet veearts toe gevat word vir ʼn deeglike ondersoek. Die veearts sal dan met ʼn volledige ondersoek beaam of dit moontlik katgriep kan wees en dit bevestig met ‘n snap toets. Die toets tel die virus op in ʼn uitskeidingsmonster.
Behandeling sluit antibiotika, binne-aarse voeding, medikasie om pyn en koors te beheer en verdere ondersteunende behandeling in, aangesien ontwatering en sekondêre infeksies selfs dodelik kan wees. Die siekte is soos ‘n wip-plank en honde wat vandag beter lyk kan more doodgaan. Dis om hierdie rede wat dit baie belangrik is om die regte behandeling te bekom.
Voorkoming is altyd beter as genesing en alle honde moet ingeënt word. Die eerste inenting kan al op ses weke plaasvind waarna die honde opeenvolgende entings op nege en 12 weke ontvang om seker te maak die immuun stelsel sterk is. Daarna word die inentings jaarliks herhaal.
Indien die volgende afspraak vir ʼn enting misgeloop word, word die proses van voor af begin. Entings moet jaarliks gegee word selfs al is die honde al oor twee jaar oud, aangesien die entings nie net katgriep voorkom nie, maar ook weerstand bied teen lewer virusse en ander siektes soos hondesiekte.
Gedurende die tydperk wat die hond nog nie al die entings ontvang het nie, moet voorsorg getref word. Jong hondjies moet nie met ander hondjies in aanraking kom wat nie ingeënt is nie. Hou altyd die beddegoed skoon en tel alle uitskeidings op. Was met verdunde bleikmiddels of F10 produkte alle beddegoed, klere en vloere waar siek hondjies moontlik in aanraking was.
