4de Poker Run behaal sukses!

Thabazimbi – Die Thabazimbi Ghost Riders MC (motorfietsklub) het Saterdag, 14 Oktober, hul jaarlikse Poker Run aangebied.
Die wegspringpunt was díe jaar by Kwagga’s Put, waarna hul omgegaan het by die Dorsmasjien, Mawala Lodge, die Groot Krokodil Lodge en uiteindelik by Leeukrans Restaurant en Kroeg geëindig het.
Vanjaar se Poker Run het sukses getoon alhoewel daar redelik minder inskrywings as verlede jaar was. Die wins van die geleentheid word dan in die gemeenskap ingeploeg. In die klub se volgende vergadering sal daar besluit word aan watter liefdadigheidsprojek die skenking gemaak sal word.
Die poker wenner, Wilma Wolmarans, het ‘n wegbreeknaweek vir vier persone by die Lakensvlei Forest Retreat in Dullstroom gewen. Verskeie ander pryse was ook op die spel naamlik: die grootste ondersteunende klub (Origanals Thabazimbi), verste ryer (Francios Steyn van Burgersford) en oudste ryer (Johan Rabie) asook heelwat gelukkige trekkings!
Volgende jaar se fondsinsamelingsprojek is reeds vasgemaak vir 1 September 2018!
“Ons bedank ieder en elkeen wie die geleentheid ‘n sukses gemaak het. Ons is hartlik dankbaar,” sê Jaco Henning, president van die Ghost Riders MC Thabazimbi aan die Platinum Bushvelder koerant.
