Week 2 van 2020 Superugby

Highlanders vs Haaie
In Dunedin speel die Haaie kookwater ruggas en verniel die Highlanders om net 42-20 as oorwinnaars van die veld te stap.
Die agterlyn van die Haaie was op hulle tone en veral die 22-jarige Aphelele Fassi het geskitter op heelagter - en het ook twee puik drieë gedruk. Die hand van Pat Lambie word duidelik gesien ou grote. Die Haaie speel volgende teen die Hurricanes in Wellington. Die Highlanders reis Canberra toe om teen die Brumbies uit te draf.
Brumbies vs Rebels
Die Brumbies klop die Rebels in Canberra en lyk na die fakkeldraer vir die Aussies in 2020. Die Brumbies wen 39-26 en behaal hulle tiende agtereenvolgende tuis-oorwinning. Die Rebels is net ‘n skadu van die span in 2019. Die Rebels speel volgende teen die Waratahs in Melbourne terwyl die Brumbies teen die Highlanders in Canberra gaan opdraf.
Chiefs vs Crusaders
Die Chiefs behaal ‘n welverdiende oorwinning oor die Saders en wen 25-15 hul weerhou ook die besoekers van ‘n bonuspunt. Warren Gatland kan baie tevrede wees en die Chiefs het sommer vroeg in die kompetisie ‘n paar oorlog rookseine uitgestuur ou grote, en die klokke gaan nog baie lui in Wellington.
Die Crusaders se volgende game is teen die Blues in Auckland met die Chiefs wat in Tokio teen die Japanese wolwe gaan uitdraf.
Waratahs vs Blues
Die Blues klop die Tahs in Newcastle 32-12 in ‘n slordige game ou grote. Wat wel waar is, is die feit dat die Blues na ‘n baie beter span is as in 2019.
Die Tahs is tans heel onder op die Aussie konferensie met ‘n nulletjie. Die Blues speel volgende teen die Crusaders in Auckland. Die Tahs gaan teen die Rebels in Melbourne uitdraf.
Leeus vs Reds
Die Jo’burgers behaal hulle eerste oorwinning vanjaar en klop die Reds op Ellispark 27-20. Dit was ‘n saai affêre maar die naam Tyrone Green moet genoem word. Die jong Leeu vleuel het ‘n puik game gehad en is ook beloon met twee puik drieë. Die Leeus gaan egter nog harde bene kou met hulle huidige spelpeil.
Die Reds reis Buenos Aires toe om teen die Jaguares te gaan uitdraf. Die Leeus speel tuis teen die onoorwonne Stormers.
Stormers vs Bulle
Die Bulle stel weer teleur en Pretoria is nog steeds in rou gedompel ou grote. Die Kapenaars wen 13-0 in ‘n gagga game, maar ‘n wen is ‘n wen ou bul! Pote Human het amper in trane uitgebars met sy onderhoud na die game en kan nie verkwalik word nie, die Bulle was flou broer.
Die Stormers reis Jo’burg toe om volgende teen die Leeus te gaan uitdraf. Die Bulle kan gelukkig nie die naweek verloor nie want hulle het ‘n loslooitjie.
Jaguares vs Hurricanes
Duisende Superbru Bra’s het beslis die een verkeerd gehad ou grote, die Canes verras en klop die Jaguares 26-23.
In hierdie game word ook ‘n nuwe rekord opgestel deur Jordie Barrett wat met ‘n allemintige 63meter strafskop slaag! Die Canes reis terug Wellington toe om volgende teen die Haai te gaan uitdraf. Die Argentyne speel tuis teen die Reds in Buenos Aires.
En dan loop daar ‘n spook in die gange rond wat saggies fluister dat Rassie dalk ‘n Roos gaan word... Terloops die Britse Pond verhandel stewig teen 19,57 teen die Rand.
Nag ou grote…
