Die pragtige stem van Endia

Thabazimbi - Endia Rezgale, ‘n bekende internasionale Latviese sangeres, het op Saterdag 22 Februarie ‘n asemrowende vertoning gegee by die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk Thabazimbi.
Die vertoning was spesiaal gehou ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom.
Haar stem het die mense bekoor en almal was in vervoering.
“Thabazimbi het ‘n baie spesiale plek in my hart, dit was my eerste huis in Suid-Afrika. Ek het op 17 Februarie 2002 in Thabazimbi aangekom en die mense het so diep in my hart gekruip. Hulle het my inspireer om te begin sing,” het Rezgale in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder gesê.
Rezgale was eers baie skaam, maar na sy deur die gemeenskap aangemoedig is het sy besluit om vir klasse te gaan en verder te studeer.
“Thabazimbi is waar ek my stem gevind het en vandaar af het my sang loopbaan begin,” het sy bygevoeg.
Sy het ‘n vol program terwyl sy in Suid-Afrika is, waar sy by verskeie plekke ook gaan optree, ten bate van die Cancer Association of South Africa.
