Community

AfriForum stel amptelike samewerking met die HPG bekend

28 February 2020 · Platinum Bushvelder

AfriForum stel amptelike samewerking met die HPG bekend

Limpopo - AfriForum en die Heritage Protection Group (HPG) het op Saterdag 22 Februarie 2020 in Ellisras hul amptelike samewerking aangekondig.


Die doel van die samewerkingsooreenkoms is om op geweldsmisdaad te fokus en wedersyds ondersteuning te bied met meer hulp tydens plaasaanvalondersoeke, uitbreiding van die bestaande telekommunikasienetwerk, misdaadtoneelbewaring, lugsteundienste, mediese ondersteuning, spoorsnyvermoë en slagofferondersteuning gedurende traumatiese voorvalle.


AfriForum en HPG beplan om gedurende 2020 gesamentlike protospanne in Limpopo te stig om te verseker dat samewerking verbeter en kommunikasiemisverstande verhoed word.


“Ons kan nie slegs op ons eie vermoëns staatmaak nie. Om ’n merkwaardige verskil te maak, moet ons alle veiligheidsrolspelers betrek. Ons almal se doelwit is uiteindelik om misdaad suksesvol te bekamp,” sê AfriForum veiligheidshoof vir die Noordstreek Hillel Coetzer.


“Hoe meer organisasies op voetsoolvlak hande vat, hoe makliker gaan dit word om die onmiddellike omgewing waarin ons woon en werk ’n veiliger plek te maak,” sê HPG-direkteur Sakkie Louwrens.
AfriForum persverklaring, 25 February 2020.
 

Van links: Llewellynn Hemmens, Steven Vermaak, Hillel Coetzer, Sakkie Louwrens en Ben Engelbrecht.