Community

Dit is hoe dit gaan met Krappies

28 February 2020 · Platinum Bushvelder

Dit is hoe dit gaan met Krappies

Thabazimbi - Johan Greyling of Krappies soos almal hom ken,  was op 31 Desember 2019 in ‘n motorongeluk wat sy hele lewe verander het.


In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder vertel Krappies: “Die aand van die ongeluk was ek ‘n passasier in die voertuig. Ek het die hele pad onrustig gevoel en het begin bid. As ek nou daaraan dink besef ek dit is die Heilige Gees wat my gewaarsku het”.


Na die ongeluk het Krappies sy twee vriende wat saam met hom in die ongeluk was uit die voertuig uitgehelp en teen die deur van die kar geleen en later besef maar iets is nie reg met sy been nie. “Ek het op die gras gaan lê en besef dat God my gebede verhoor het want ten spyte van my been het ons almal lewendig uit die ongeluk gekom”.


Hy het ernstige beserings opgedoen en sy been was op die punt om geamputeer te word.
Die familie het nie ‘n mediese fonds gehad nie en die Thabazimbi gemeenskap het dadelik ingespring om te help.


Twee maande na die ongeluk is Krappies weer by die huis. Genadiglik was dit nie nodig om sy been te amputeer nie en hy het weer ‘n glimlag op sy gesig.


“Ek is ongelooflik dankbaar vir elkeen se gebede en vir God wat my al sover gedra het. Die ongeluk het my verhouding met die Here net versterk,” het Krappies gesê.


Al kan Krappies nog nie sy been gebruik nie is die dokters baie tevrede met sy vordering en die volgende stap is die ortopediese gedeelte van sy behandeling. Sy ligamente moet weer geheg word en sy knieskuif en frakture moet herstel waarna hy vir rehabilitasie kan gaan.


Die toekoms is nog onseker maar die gesin staan vas in hulle geloof.


Krappies wil graag dankie sê vir almal wat donasies gegee het asook Thelma en Wessel du Preez vir alles wat hulle gedoen het asok vir sy vriende wat hom bygestaan het en ondersteun het.


Indien jy Krappies wil bystaan op sy pad om te herstel kontak sy ma Retha Greyling op 071 360 2904.

Krappies se gemoed is beter en hy is opgewonde oor die toekoms.