Super Rugby 2020 Week 6

Sunwolwes vs Brumbies
Soos verwag klop die Brumbies die Japanese Wolwe 47-14. Met hierdie oorwinning is die Brumbies nou eerste in die Aussie konferensie en derde op die algehele puntetabel.
Die Brumbies speel volgende teen die Waratahs in Canberra met die Wolwe wat die Crusaders in die Reds se ou staduim Suncorp moet trotseer weens Coronavirus vreese in Japan.
Crusaders vs Reds
In Christchurch moes die Saders baie hard werk vir hulle oorwinning oor ‘n begeesterde Reds span en wen 24-20. Dit het gelyk of die Reds vir die eerste keer weer in sewe jaar wen maar swak stelskop-werk was hulle ondergang. Die Reds het vier keer agter die doellyn gekuier en die tuisspan slegs drie keer.Die Crusaders speel volgende teen die Sunwolwes. Die Reds gaan teen die Bulle in Brisbane uitdraf.
Waratahs vs Chiefs
Die Tahs word verneder in Sydney deur die Chiefs en verloor met ‘n rekordtelling van 51-14. Die skakelpaar, Brad Weber en Aaron Cruden, het die dag oorheers met puik spel.
Die Chiefs speel volgende teen die Hurricanes in Hamilton. Die Waratahs gaan in ‘n Aussie derby teen die Brumbies Canberra uitdraf.
Hurricanes vs Blues
Dissipline, is ‘n woord wat die Canes baie vinnig sal moet leer en dan toepas ou grote want hulle gaan nog krokodiltrane huil later vanjaar. Hulle verloor 24-15 teen die Blues wat nou sesde op die puntetabel inskuif en die Canes val na die agste plek.
Die Hurricanes gaan in ‘n klipharde Kiwi derby teen die Chiefs in Hamilton te staan kom. Die Blues draf teen die Leeus in Auckland uit.
Rebels vs Leeus
Die Rebelle het die Leeus se tande getrek en hulle maanhare in Franse vlegsels verander ou grote. Die Jo’burgers verloor 37-17 en dit ook vir die eerste keer teen die Aussie Rebels. Terloops ou grote, die Leeus het nou die onderste plek op die puntetabel by die Bulle gegaps.
Die Rebels het in week sewe ‘n loslootjie. Die Leeus gaan teen die Blues in Auckland uitdraf.
Haaie vs Jaguares
Die haaie speel goeie ruggas en behaal welverdiend ‘n goeie oorwinning oor die Jaguares.
Die Durbaniete wen 33-19 en was ongelukkig om nie ‘n bonuspunt te verdien nie maar het dan met hierdie wen tot die eerste plek op die algehele puntetabel geklim.
Die Haaie speel volgende in ‘n tamaai SA derby teen die Stormers in die Haaitenk, en wat ‘n riller gaan dit nie wees nie maats. Hierdie game is vir beide spanne amper soos ‘n eindstryd ou grote.
Die Jaguares speel tuis in Buenos Aires teen die Highlanders.
Bulle vs Highlanders
Die Bulle stel die handjievol toeskouers op Loftus nie teleur nie en behaal hulle eerste oorwinning van die seisoen. Die naam Jake White is in die gange gefluister en dit het dalk die vonkie aangesteek om kole te gooi. Hulle klop die besoekers 38-13 en verdien toe ook ‘n bonuspunt.
Die ster van die dag was die gewese Blitsbok spoedvraat Rosco Spekman wat skitter en gaan kuier drie keer agter die doellyn.
Die Bulle reis nou na doer onder en draf in die eerste game op toer uit teen die Reds in Brisbane met die Highlanders wat in Buenos Aires teen die Jaguares gaan opdraf.
