Superugby 2020 - Week 7

Chiefs vs Hurricanes
In Hamilton verloor die Chiefs 27-24 teen die Hurricanes. Drama tot in die 84ste minuut toe Jaco Peyper ‘n omstrede beslissing in ‘n strafskop vir die Canes verander. Jordie Barret slaag met die starfskop en die Canes stap as wenners van die veld. Gatland het blykbaar soos ‘n draak vuur gespoeg.
Die Chiefs is nou derde op die NZ log met 19 punte terwyl die Canes vierde is met 17 punte. Beide spanne het ses games gespeel.
Sunwolves vs Crusaders
Die Japanese Wolwe se tjank word vir die hoeveelste keer die seisoen gehoor en verloor 49-14. Die Wolwe het die 14 punte in die eerste helfte aangeteken. Dit is eintlik maar beter dat hulle nie meer in die Super Reeks gaan speel nie ou grote.
Die Saders is tans eerste op die NZ log met 23 punte na ses games en tweede op die algehele log.
Blues vs Leeus
In Auckland hardloop die Blues die Leeus deurmekaar en wen verspot maklik 43-10. Hulle was swak, baie swak.
Groot kommer heers in die Leeukamp. So erg dat hulle nou twee weke in kwarantyn geplaas is. Die goeie nuus is dat hulle gelukkig nie rugby hoef te speel nie, hulle kan maar net lê. Net ‘n entjie van hulle buurman, die koorsige bul.
Reds vs Bulle
Van die afskop af klim die Bulle verwoed in en glo dit of nie, na net 16 minute loop hulle 17-0 voor! Nou of daar ‘n rooksein op die horison verskyn het wat ‘n virus se naam uitgespel het, sal ons seker nooit weet nie. Die Bulle verloor 41-17, ja boet, die telling is net so.
Dit moet geweldig swaar op rugga ondersteuners se harte lê dat hulle helde indirek deur ‘n virus gered is en dadelik moes terugkeer huis toe om in hulle kamp te kom loop lê, ja ou grote, net lê. Kwarantyn. Geen ruggas asseblief. Wees rustig.
Die Reds is na sewe games derde op die Aussie log met dertien punte.
Haaie vs Stormers
In die Haaitenk wen die Durbaniete welverdiend hierdie klipharde game 24-14. Dit was ‘n helse stryd maar ook erg omstrede. Die Haaitenk het stil geword na net sewe sekondes na die afskop toe Johan du Toit die Haai skrummie, Louis Schreuder, uit die poel loop. Die televisie skeidsregter se rooikaart aanbeveling is deur AJ Jacobs van die hand gewys en Du Toit moet toe net vir tien minute boefkas toe, maar die hartseer is dat Schreuder met ‘n draagbaar van die veld moes gaan en die res van game mis!
Op die dag was die Haaie die beste span en het verdien om hierdie SA derby te wen. Met hierdie oorwinning beklee hulle nou die eerste plek op die SA log en die algehele eerste plek op die superlog. Die Stormers het afgeskuif tot die sewende plek.
Jaguares vs Highlanders
Afgelas weens Covid-19
Brumbies 47 - 14 Waratahs
Die Super Reeks is tydelik opgeskort wees die KORONAVIRUS tot verdere kennisgewing.
Nag ou grote...
