Waar daar ‘n rokie trek...

Thabazimbi – ... is daar ‘n vuur. Op Donderdag, 2 November, het die gemeenskap van Thabazimbi hoed afgehaal en die lug ingetuur, want groot swart bolle rook het waarskuwend die lug oorgeneem in die rigting van Spitskop.
Groot hope rommel het brand gevat op ‘n kleinhoewe by Spitskop, maar gelukkig is niemand beseer nie.
“Die oorsaak van die brand is onbekend,” aldus Werner Masser in ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant. Díe vuur het ontstaan op ‘n kleinhoewe waar Masser woon. “Toe ek die vlamme gesien het, het ek terstond nader gehardloop en probeer die vlamme blus, maar kon dit nie regkry nie. Die vuur het in ‘n oogwenk onbeheerbaar groot geword.”
Die vuur het behoorlik vlam gevat by groot hope rommel. “Díe rommel was besig om voorberei te word om as herwinbare materiaal te gebruik,” sê Masser.
Lindikaya Nqeketo van die Thabazimbi Brandweerdienste het sowat 14h30 ‘n oproep van Gerrie Visagie gekry, wat hul van die vuur in kennis gestel het. Hulle is inderhaas onderweg na die kleinhoewe op Spitskop. In ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant vertel Nqeketo dat die rookwolke heelwat erger as die vuur was, maar ons moes behoorlik moue oprol dat die vuur nie ‘n weghol vuur word nie.
“Daar was nie water op die kleinhoewe nie, wat beteken ons moes twee keer ry om water te gaan skep om die vuur te kan blus. Ons was eers omstreeks 18h00 klaar,” sê Nqeketo.
Van 1 Januarie vanjaar het die Thabazimbi Brandweer alreeds 57 gevalle gehad waar brande gerapporteer is. Dit sluit sink huise (19 oproepe), strukturele brande (18 oproepe) en grasbrande (20 oproepe) in.
“Ek wil ook die gemeenskap waarsku: jy kan heel makliker as gevolg van die rook sterf as die vuur self. Wees asseblief versigtig en rapporteer dadelik as jy rook gewaar,” sê Nqeketo.
“Indien jy vasgevang is ‘n gebou wat brand, hou ‘n nat lap voor jou mond en neus, sodat jy nie rook inasem nie. Beweeg eerder naby aan die mure sodat jy nie verdwaal nie (rook is soms te dik om deur te sien), en kruip verkieslik rond. Hoe laer jy aan die grond beweeg, hoe minder rook is daar.”
Nqeketo las by: “Ons bedank ook hiermee die gemeenskap vir hul flink en vinnige bystand, die vuur kon baie gou weghol.”
