Community

GRENDEL GEDAGTES [Skrywe aan die redakteur]

22 June 2020 · Platinum Bushvelder

GRENDEL GEDAGTES
[Skrywe aan die redakteur]

Thabazimbi – Nou toe nou... Dit het nou al ‘n spreekwoord in volksmond geword dat ons almal in dieselfde bootjie is!
Ek dink daar is nou soveel bootjies meer as toe ons net ‘n ryk, middelklas en armes gehad het voor die grendel aankondiging. Daar is nou ook die ontoeganklikheid van skole, hospitale, sport, dans, werk en kerk.
Die bootjie het nou ook ‘n ander Engelse spreekwoord laat sink, naamlik dat ‘fellowship’ beteken dat daar twee ‘fellows’ en ‘n ‘ship’ wankel op die water. Nou mag daar net een persoon in die lewensbootjie wees... en ons weet nie waarheen nie...

Dan is daar die gewone lewe wat ook moet aandag kry. Die daaglikse kriminaliteit wat agterweë bly, die drankmisbruik en die ellelange lys van staatskaping. Mens sou dink dat gesinne nader aanmekaar sal groei, maar helaas... gesinsgeweld neem toe. Dan is daar die hospitaalbeddens wat beset word deur dronk bestuurders en dronk misdaad!
Maar daar is hoop dat ons weer eendag al die voorregte wat nou ontbreek opnuut sal waardeer. Die samekoms by die kerk, die terugkeer van veral mikro-besighede en lekker kuiertjies. Maar daar is ook die voordeel van reëls breek... Dis soms lekkerder omdat dit onwettig is! Soos ‘n skelm kuiertjie vir ouma, sonder ‘n masker te loop en eerder jou sanitiser te drink as om aan te spuit.
Laat ons maar die beste van ‘n slegte saak maak en die swaarkry met lekkerkry klaarkry. Mag jou planne om te oorleef nooit opraak nie. ‘n Ekonoom het dit so gestel: “Ons staan op die rand van ‘n ekonomiese afgrond. Ons sal egter ‘n tree vorentoe gee wat sal ly na ongekende dieptes”.
Hou die gemoed hoog, motiveer die wat nie lig sien nie en help mekaar. So sal ons wen.

Oom Mamba