8-Jarige Chanté samel geld in vir studente

Thabazimbi – Op Saterdag, 29 Julie, het 8-jarige Chanté Mulder Solidariteit Helpende Hand blikkies geneem en sente vir studente ingesamel by die Thabazimbi Landbou en Nywerheidskou.
“Vandag gaan nie oor my nie, dit gaan oor ons studente. ‘n Student is iemand wat verder leer om ‘n dokter of prokureur te word. Dit is vir my lekker om ‘n verskil te kan maak in ons gemeenskap, en ook om studente te kan help met ‘n ekstra rand of twee. Ons jeug van vandag is more se toekoms. Hierdie ervaring is gelukkig nie vir my vreemd nie, ek hou daarvan,” het Chanté aan Platinum Bushvelder gesê.
Die mense het hulle hande diep in hulle sakke gedruk vir die kordate jong dame. Chanté is een van die Jacaranda Show se dansafdeling en maak haar gemeenskap baie trots. Vir ‘n agt-jarige, mag hierdie meisie maar! Selfvertroue ontgaan haar glad nie en sy kruip baie vinnig in mense se harte.
Solidariteit Helpende Hand wil dan ook vir Chanté baie dankie sê vir haar bydrae.
Sou jy vir Chanté wou stem in die kompetisie, sms Chante Mulder na 35959. Een SMS kos R3 en daar kan tot 23 Sptember gestem word.
