Theo en Bessie Craggs groet Swartklip

Northam/ Swartklip – Theo en Bessie Craggs het in April 1988 Swartklip toe verhuis nadat hulle aandele in Swartklip Melkery gekoop het. Hulle was in hul middel dertigs. Hul oudste seun Stephan was drie jaar oud en die tweede seun Jan Adrian was een jaar oud. Theodor, hul jongste is in 1989 gebore te Swartklip.
Bessie het van 1993 af skoolgehou by Laerskool Platina en voor dit vir ‘n ruk by Laerskool Northam. Sy was alombekend as juffrou Bessie en later Teacher Bessie. Na 19 jaar het hulle die melkery verkoop en Noordwes Droogskoonmakers in Northam aangekoop. Die droogskoonmaker het hul in 2019 verkoop.
In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder het Theo gesê: “Ons was baie geseënd gedurende ons 32 jaar in die dorp en is baie dankbaar vir die vriendskap, liefde en ondersteuning wat ons ontvang het deur die jare. Die Swartklip en Northam inwoners was net goed vir ons en ons kinders.”
Aldus Bessie: “Dit is ook ‘n behoefte om ons dank uit te spreek teenoor die mynbestuur, skoolbestuur en gemeenskap wat ons baie hulp en ondersteuning gegee het deur die jare. Baie belangrik om te noem dat die verskillende geloofsgemeenskappe ‘n baie belangrike rol in ons lewens gespeel het.”
Volgens die paartjie was Swartklip en Northam wonderlike dorpe om in te kon woon en die kinders kon nog in die strate speel tot onlangs. Bessie het afgetree op 30 Junie 2020 en hul het Reebok toe getrek op 22 Julie.
Theo en Bessie het ‘n spesiale boodskap vir die Swartklip en Northam gemeenskap: “Ons is dankbaar dat ons daarvan seker mag wees dat God in beheer is en dat ons rustig mag wees in die wete dat Hy van alles weet en dat niks ons uit sy hand kan ruk nie. Ons gebede is dat julle almal veilig en gesond mag bly en God se seën mag ervaar. Aan God alle eer”.
