NZ Aotearoa Superrugby, Australian Domestic & SA Ruggas

Hurricanes vs Chiefs
Die Hurricanes behaal ‘n puik oorwinning oor die Chiefs om welverdiend met 31-18 uit die stryd te tree. Die Canes het ook ‘n waardevolle bonuspunt verdien met Kobus van Wyk wat agter die doellyn gaan kuier het. Van Wyk is ook nou een van die voorste drie-drukkers in die reeks.
Die Chiefs sal maar tevrede moet wees om die trotse eienaars van die gehate houtlepel te wees. Die Chiefs ondersteuners is gekenmerk deur die soms irriterende gelui van klokke tydens games, maar in hierdie reeks is dit nogal van pas... want hulle was spreekwoordelik die melkkoeie.
Dit was ook dan die Chiefs se laaste game van die reeks met die Canes wat volgende teen die Highlanders gaan uitdraf. Verder is daar groot kommer oor die All Black cappie Sam Cane wat weer beseer is.
Crusaders vs Highlanders
In een van die beste games van die reeks klop die Saders die moedige Highlanders 32-22 om dan as die 2020 Aotearoa kampioene aangewys te word. Die gehalte van ruggas in NZ is verstommend en daar sal weer ‘n baie sterk All Black span gekies kan word.
Die Crusaders se laaste game is teen die Blues en hierdie kan ‘n riller wees. Die Highlanders sal teen die Hurricanes uitdraf in die laaste game van die reeks.
Waratahs vs Reds
Die Waratahs verras en klop die Reds met ‘n rekordtelling van 45-12. Die Tahs se jongspannetjie begin nou lekker gel en het baie goeie ruggas opgedis. Die Tahs speel volgende teen die Force en die Reds gaan teen in die Rebels in Queensland uitdraf.
Rebels vs Brumbies
In Melbourne skok die Rebelle die Brumbies en wen 30-12. Die rebels het verdien om dié een te wen en dit is ook die eerste loesing wat die Brumbies kry in die reeks. Die Brumbies het volgende ‘n loslootjie met die Rebels wat teen die Reds gaan uitdraf.
Plaaslik is die gerugte dat daar ‘n moontlikheid is dat die eerste afskop middel-September kan wees. Die groot kopseer is egter die finansiële probleme wat baie unies ondervind en borge sal vinnig gevind moet word.
In Blou Bul land is die Springbok Duane Vermeulen as die Bulle se nuwe cappie aangewys.
