Community

Bosveld-legende oorlede

11 September 2020 · Platinum Bushvelder

Bosveld-legende oorlede

Northam – Northam het ‘n legende verloor toe Ockert Venter op Donderdag 3 September oorlede is.

Ockert is op 17 April 1949 op die plaas Hartbeeskoppies gebore. Hy het sy laerskool loopbaan by Laerskool Northam voltooi en is daarna na Hoërskool Frikkie Meyer.

Na die weermag het Ockert by NTK Northam gewerk waar hy tot takbestuurder bevorder word. Sy volgende skuif was na Obaro Thabazimbi waar hy vir baie jare werk voor hy by Kransberg Petroleum aansluit tot sy dood.

Hy het ook van 1976 tot 1992 die skoolbus van Maroelafontein, Northam en Ambandelbult af gehad.

In sy persoonlike lewe ontmoet hy Ria Venter, die liefde van sy lewe, en in 1974 haak hulle die knoop deur. Uit die huwelik word vier kinders gebore en vyf kleinkinders. In 2015 verloor hulle een van hulle seuns en in 2018 is Ria oorlede. Sy familie was sy grootste skat.

Ockert was ‘n man van inbors wat die nood van ander kon raaksien en altyd probeer help het... ‘n Eienskap wat sy kinders altyd na sal opkyk en nastreef. Hy het ook naby aan God geleef en vir dié wat hom geken het is daar geen twyfel dat hy nou by God se voete sit nie.

Hy het ‘n vol lewe gely en los beslis ‘n leemte, nie net in sy geliefdes se harte nie, maar elke persoon wie se lewe hy aangeraak het.

Ockert Venter, ‘n geliefde Northam-inwoner is op 3 September oorlede.