Super Rugby Unlocked

Leeus vs Griekwas
Op Ellispark brul die Leeus weer hard en verslind die Griekwas. Die Leeus kuier nege keer agter die besoekers se doellyn en wen 61-31. Courtnall Skosan druk drie keer en met sy vaart was hy ‘n groot tand in die vlees van die Diamantboere. Elton Jantjies speel dalk tans die beste rugby van sy loopbaan en is ook ‘n uitstekende leier. Hy slaag ook met agt pogings pale toe.
Die Leeus speel Vrydagaand teen die Bulle in Jo'burg en dit beloof om ‘n riller te wees. Die Griekwas gaan teen die Stormers in Kimberley uitdraf.
Pumas vs Haaie
In Nelspruit het die Durbaniete net teveel skietgoed vir die tuisspan gehad en wen gemaklik met 42-19. Ongedwonge foute en onnodige afstaan van strafskoppe was die Pumas se ondergang.
Die Haaie se volgende game is teen die Cheetahs in Durban. Henco Venter sal die Haaie op die veld lei in die afwesigheid van Lukhanyo Am wat met ‘n besering opgeskeep sit. Dit gee die vuurvreter Jeremy Ward kans in die beginspan. Die Pumas het ‘n loslootjie.
Bulle vs Stormers
Drama, trane van blydskap en hartseer. Donderweer in Pretoria en donkerwolke van pyn in die Kaap. Dit is kortliks die verhaal van die slagting op Fort Loftus waar die Bulle die Stormers in sestig minute ‘n rugbyles gee ou grote. Die benoude skeidsregter stop die spel in die 62ste minuut en die telbord staan op 39-6 in die guns van die Bulle.
Wyle Dok Craven en duisende ander Kapenaars is skytbang vir weerlig en donderweer maar Saterdagaand maar alte bly dat die game tot halt geroep is weens veiligheidsredes.
Die Bulle het puik ruggas opgedis en die skakelpaar was op hulle stukke. Die veteraan Morné Steyn was ‘n generaal en die skrummie Ivan van Zyl het vir Herschel Jantjies ore aangesit. Die Bulle het die gedugte voorry van die Stormers karnuffel en op die voorvoet kon die agterlyn lekker baljaar.
Die Stormers speel volgende teen die Griekwas in Kimberley met die Bulle wat oor die jukskei teen die Leeus gaan uitdraf Saterdagaand om 19:00.
en daar anderkant...
Engeland is die nuwe Ses Nasie kampioen vir 2020. Frankryk klop Ierland 35-27. Skotland klop Walis 14-10 vir die eerste keer in 20 jaar.
In die Tri Nations en die derde Bledisloe Cup game vermorsel die All Blacks die Aussies en wen met ‘n rekordtelling. Die eindtelling van 43-5 vlei eintlik die Aussies want twee beslissings deur die TMO kon die telling tot diep in die vyftigs geneem het. Die All Balcks en die Aussies speel weer Saterdag en dit kan mos nie nou lekker wees om ‘n rugga Aussie te wees nie.
Nag ou grote...
