Schools & sport

Currie Cup 2020

18 December 2020 · Platinum Bushvelder

Currie Cup 2020

WP vs Pumas

In Kaapstad wen die WP 28-14 en behaal ook ‘n waardevolle bonuspunt. Vir die WP het die Springbok stut, Steven Kitshoff, ‘n great game gehad en is ook as speler van die wedstryd aangewys. Die Pumas het ‘n paar kanse verkwansel om punte aan te teken maar kon nie afrond nie. Die game was ontsier deur 29 strafskoppe en twee geelkaarte. Die gehalte van SA skeidsregters is wragtag pateties ou grote!

Die Pumas se volgende game is Vrydagaand teen die Cheetahs in Nelspruit. Die WP het ‘n loslootjie die naweek.

Haaie vs Bulle

In die Haaitenk verras die Haaie vriend en vyand en klop die Bulle 32-29. Vir die Haaie het Curwin Bosch weer op losskakel geskitter en teken 17 punte met die skoen aan. Die reuse skop van 61 meter op kusvlak sal lank onthou word. Dit was juis Bosch wat - met ‘n manjifieke dwarsskop - die bal in die hande van Yaw Penxe in skop om ‘n juweel drie te druk. Bosch se doelskop was in die kol en die Haaie het die voortou geneem.

Morné Steyn is ook maar net mens, in die 82ste minuut het die Bulle ‘n strafskop. Normaalweg is die tipe skoppe nou nie vir Steyntjie ‘n probleem nie, maar o my suster in Brits, hy mis die skop om die telling gelykop te maak. Bra Jake was nie lus vir geselsies na die game nie – en met rede!

Die Bulle moes volgende teen die Griekwas in Kimberley speel maar die game is uitgestel weens COVID-19. Die Haaie moet Jo'burg toe reis om teen die Leeus Saterdag aand uit te draf.

Cheetahs vs Leeus

In die Rosestad verloor die Cheetahs teen ‘n honger Leeuspan. Die Leeus wen 39-23 en is besig om weer die wenkultuur te ontwikkel. André Warner se terugkeer op skrumskakel het ‘n helse groot verskil gemaak op aanval. Warner het ook twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Die Leeus speel volgende teen die Haaie in Jo'burg en die Cheetahs teen die Pumas in Nelspruit.

Nag ou grote...