Community

Kolskoot vir Thabazimbi Boogklub

8 March 2021 · Platinum Bushvelder

Kolskoot vir Thabazimbi Boogklub

Thabazimbi – Thabazimbi Boogklub was die gasheer van die eerste 2021 Field kompetisie op ‘n snikhete Saterdag 20 en Sondag 21 Februarie.

 Dit was die eerste kompetisie onder die nuut herstigte South African National Indoor & Field Archery Association (SANIFAA). Verskeie skuts het hulle vernuf na ‘n uitgerekte grendeltyd kom toets. Phalaborwa en Middelburg was onder andere hul kompetisie hier op die tuisfront. Skuts het so ver as Kaapstad gekom vir die kompetisie.


Bekende name in Boogskietkringe het ons verras met hul teenwoordigheid. Oud Thabazimbiër HJ Swanepoel het kom skouer skuur met plaaslike talent. Hy was dan ook die wenner in sy kategorie met goeie tellings van 539 op dag een in die field rondte, en 549 vir dag twee in die hunter rondte om ‘n totaal van 1,088 uit 1,120 te behaal. Daarmee ewenaar hy sy persoonlike beste telling. Grendeltyd kry hom nie onder nie!


Phalaborwa se Hennie Kruger het ‘n goeie telling van 526/560 op dag een in field behaal en 528/560 op dag twee in hunter vir ‘n konstante totaal van 1,054 uit 1,120.
Die dames het ook nie teruggestaan nie! Bianca Coetsee (neé Kleynhans) is ‘n oud onderwyseres van Frikkie Meyer en het ‘n eerste plek gedeel met Mathilda Broekhuizen in die Adult Female Bowhunter Unlimited klas. Verskeie jong skuts het die eerste keer die baan betree. Ons sien uit na ‘n belowende toekoms vir die jong manne en dames van Hoërskool Frikkie Meyer se boogskietspan. Die grendeltyd bring mee dat kompetisies onder streng reëls moet plaasvind.

 
Thabazimbi Boogklub spog met sy eie COVID-19 beampte Dr Jaco Marais, ook ‘n kranige skut. Boogskiet en veral die field kompetisie bring alle skuts terug na ‘n liefde vir die buitelug.

Die SANIFAA Field Nasionale boogskietkompetisie vind plaas op 20, 21en 22 Maart te Thabazimbi. Hou die opkomende sterre van Thabazimbi dop.

Ameij Broekhuizen en Kruger van Zyl span hul boë op ‘n field teiken. 
Henkie Botha en Devonric Swart is twee nuwelinge om dop te hou!