Community

Kies wat jy wil kies. Wéét net wat jy kies! 

29 March 2021 · Platinum Bushvelder

Kies wat jy wil kies. Wéét net wat jy kies! 

Thabazimbi – Dwelms in Thabazimbi is ‘n realiteit. Dit is skokkend om te dink hoeveel kinders in die pragtige klein dorpie vasgevang is in die greep van dwelms.
Platinum Bushvelder het gesels met ‘n Thabazimbi gemeenskapslid (wat graag anoniem wil bly) met 30 jaar se ondervinding in rehabilitasie.
“In ons dorp het ek al dwelmgebruikers teëgekom van so jonk as nege jaar oud en selfs ouer mense in hul sewentigs. Wat baie skokkend is, is dat heroïne baie algemeen is in die dorp – selfs onder die jongste verslaafdes,” sê ons informant. 
Alhoewel die gemeenskaplid nie meer aktief betrokke is by rehabilitasie nie, is daar steeds ander instansies wat meer as bereid is om te help. Hy moedig verslaafdes aan om hulp te soek by ‘n kerk en om hulself te omring met positiewe mense. 
“Moenie jouself in ‘n situasie plaas waar jy weer in die versoeking kan val nie. Handhaaf die Bybel se beginsels, dis ‘n positiewe, motiverende boek. Bid elke dag en werk hard aan jou verhouding met God,” voeg hy by.
Slegs ‘n klein persentasie van verslaafdes rehabiliteer suksesvol. Rehabilitasie sentrums is baie duur en meeste van die tyd kan die persoon dit nie self bekostig nie. Organisasies en ouers kan ook nie altyd ‘n bydrae maak nie en waar moet die verslaafdes dan draai vir hulp? Dit is beter om net nooit te begin nie want om uit die kloue van verslawing te kom is baie moeiliker as wat jy ooit sou dink. Meeste kinders wat aan dwelms verslaaf raak, is as gevolg van groepsdruk van slegte vriende of ouers wat ‘n verkeerde voorbeeld stel.
Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles en elke ouer het ‘n verskillende manier van hoe hy of sy hul kinders groot maak, maar hier is ‘n paar wenke indien jy vermoed dat jou kind dwelms gebruik: 
Gaan deur jou kind se tas.
Maak seker jy weet wie jou kind se maats is, en dat hul ‘n goeie invloed op jou kind het. 
Let op as jou kind se persoonlikheid verander.
Kyk gereeld na jou 
kind se pupille.
Wees op die uitkyk vir woedeuitbarstings of as ‘n kind begin onttrek.
Weet waar is jou kind te alle tye – dit is jou verantwoordelikheid om jou kind reg op te voed. 
Asseblief, moet nie jou kinders saamneem na ‘questionable’ 
kuierplekke toe nie. 
As jy enige ongeruimdhede sien, rapporteer dit dadelik. Maak dit moeiliker vir die verkopers om aan verslaafdes te voorsien en maak dit moeiliker vir verslaafdes om dit te bekom.  Jy kan die Thabazimbi polisiestasie kontak op 014 777 3500 of Crime Stop 08600 10111.