Community

NEE vir Boelies! 

12 April 2021 · Platinum Bushvelder

NEE vir Boelies! 

Thabazimbi – Luci Gerber word vanjaar 13 jaar oud. Haar passie is krieket, swem, kuns en gimnastiek. Sy is só ‘n aktiewe mensie dat niemand ooit sou kon raai dat haar een been eintlik korter as haar ander een is nie.

Die probleem met haar been het in 2016 sy verskyning gemaak na ‘n uitstappie saam met haar pa. “Ek het gesukkel om by te bly en my regter been het baie seer geword,” het Luci in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder vertel. 
Hulle het eers vermoed dat sy haar been verstuit het. ‘n Paar dae later na sy op die trampolien gespring het, het sy soveel pyn gehad dat sy in die hospitaal beland het. Na twee lang dae van toetse is sy gediagnoseer met developmental hip dysplasia. Sy moes twee operasies ondergaan en daar was komplikasies met die eerste operasie wat veroorsaak het dat haar regterbeen stadiger gegroei het. Vandag is haar linkerbeen 6cm langer as haar regterbeen, wat veroorsaak dat sy nie ‘normaal’ kan loop of hardloop nie – en vereis dat sy ‘n spesiale, opgeboude, skoen moet dra.
Na haar operasies het vele mense haar probeer keer om haar drome te volg maar Luci laat nie toe dat ander mense se opinies haar onderkry nie. “Baie mense het my al aangestaar, ek moes maar self besluit dat dit my nie gaan pla nie. Ek het ook al baie mense gekry wat vir my gesê het dat daar seker goed is wat ek nie sal kan regkry nie wat my laat besluit het dat ek hulle sal wys. Niemand behalwe ek self sal my sukses bepaal nie!”
‘n Boelie is iemand wat ander bang-, seer-, of skrik maak en mense minderwaardig wil laat voel. “Ons skool doen hulle bes om boelies te keer, en die leerders staan op teen boelies. Ons weet dat ons enige tyd met ‘n leier of ‘n onderwyser kan praat en hulle sal dadelik help. Boelies is nie net by die skool nie, boelies is oral.” Sy wil ander aanmoedig om te praat as hulle geboelie word en nie toe te laat dat ander mense hul waarde bepaal nie.
Haar pappa vertel: “Ek staan met trane in my oë en ‘n knop in my keel, langs die skool se atletiekbaan, en toekyk terwyl Luci haar aanloop neem vir haar finale poging om dit oor die dwarslat te maak, in die dogters o/13 kategorie van veld-items. Sy het ongelooflike deursettingsvermoë en daar is niks wat die meisie kan terughou nie!” 

Luci Gerber laat nie toe dat boelies haar onderkry nie!